Ons het die volgende vrae aangaande kerkwees aan Dr. André Botma gestel:

1. Die frase "ekklesia reformata, semper reformanda" word vandag gebruik en misbruik vir die bereiking van ’n verbasende reeks teologiese en ekklesiastiese doelwitte. Wat was die oorspronklike bedoeling van "semper reformanda"?

Daar is nie duidelikheid oor die presiese oorsprong van hierdie woorde/frase nie.  Alhoewel die frase waarskynlik eers relatief onlangs tot stand gekom het, vind ons die beginsel daarin vervat reeds in die kanon.  Die beginsel soos vervat in "semper reformanda" het wel 'n belangrike rol gespeel in die tyd van die reformasie (toe die kerk hom van die dwalinge van die Roomse Kerk gesuiwer het volgens die Woord van God).  

Ironies genoeg word hierdie frase gebruik as agent vir verandering en het dit 'n gerieflike verskoning geword om Reformatoriese doktrine te vervorm en te verdraai. In hierdie sin is dit ook in sekere Afrikaanse Reformatoriese denominasies misbruik om dwalinge te regverdig.  Die meer uitgebreide vorm van die frase lui "ekklesia reformata semper reformanda est secundum verbum Dei" ("die hervormde kerk moet altyd hervorm na die Woord van God").  Hierdie frase het skynbaar ná die Tweede Wêreldoorlog tot stand gekom en is (en word steeds) dikwels aangewend om ontevredenheid met (Skrifgetroue) reformatoriese teologie, veral soos uitgedruk in die reformatoriese belydenisskrifte, aan te toon.  Die interpretasie van diegene wat die frase sodanig misbruik is dus: "Die kerk is hervormd, maar benodig verandering/vernuwing op verskeie maniere".  Die oorspronklike bedoeling van "semper reformanda" was egter dat die kerk eintlik 'n voortdurende taak het om weer na die Skrif te gaan kyk, haarself daaraan te meet en daarvolgens te hervorm.  Dit geld natuurlik vir beide die kerk as instelling en vir elke gelowige. 

 

2. Kan die wegbreek van beswaardes vanaf die NHKA as 'n tipe reformasie beskou word?

Gesien in die lig van hedendaagse omstandighede en tendense: ja.  Daar is 'n neiging in baie geloofsgroepe ("kerke"/genootskappe) om nie meer by die Woord te bly nie en om op allerlei bedenklike maniere met die Skrif om te gaan.  Die hantering van moeilike kwessies soos kerkeenheid, ekumene en homoseksualiteit getuig daarvan.  Daar is ook myns insiens 'n proses aan die gang by sommiges om alle gelowe as "gelyk" / "dieselfde" te beskou.  Die beswaardes wil terug na die Skrif en wil poog om die Skrif op 'n verantwoordelike wyse uit te lê.

 

3. Wat is die Bybelse begrip van "kerk"?

God roep mense om in Hom te glo en as gelowiges te leef.  Die Bybel vertel egter van die mens se tragiese verwerping van God en die mens se roeping.  Die mens wil self God wees en lewe volgens sy eie wil.  God is egter genadig.  Hy los nie die mens nie.  Hy roep mense (die volk Israel) om in Hom te glo en Hom gehoorsaam te wees.  Deur die volk Israel wou God uiteindelik die hele mensdom oproep tot geloof.  Die OT vertel egter van hierdie mense (die volk Israel) se ongehoorsaamheid. 

God gryp eindelik finaal in.  Hebreërs 1:1 (vgl. Rom. 3:21) stel dit so: "In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun".  God kom Self na ons toe in en deur Jesus Christus. 

Jesus het mense opgeroep tot bekering.  Bekering in die sin dat Hy mense opgeroep het om as kinders van God te leef (waar mense in gehoorsaamheid aan God leef, daar is die koninkryk van God).  Hulle moes dus hulle ou lewenswyse laat vaar en 'n nuwe lewe begin leef (met alles wat dit behels).  Ná Sy dood en opstanding, het gelowiges die verkondiging van Jesus (dit wat Hy hulle in leer en lewe kom leer het) voortgesit.  Deur hierdie verkondiging deur die volgelinge van Jesus, het mense tot geloof gekom.

Paulus gebruik veral die term in Christus om te stel dat iemand in Christus glo.  Om in Christus te glo, beteken vir Paulus dat iemand gelowig is en dat die persoon kerk is.  Anders gestel, om "in Christus" te wees, is om kerk te wees.  Van die gelowige word gesê dat hy/sy "in Christus" is, omdat hy/sy (deur die doop) in die kerk as die liggaam van Christus ingelyf is (1 Kor. 12:13; Rom. 6:3; Gal. 3:27). 

Die kerk is die liggaam van Christus en Hy is hoof van die kerk (Ef. 1:22-23). Die klem van hierdie beskrywing lê op die eenheid van Christus en die kerk asook die eenheid tussen gelowiges self. Hierdie Skriftelike beskrywing van kerk is noodsaaklik vir die begrip van hoe die kerk onder die outoriteit van Christus funksioneer. Elke gelowige het ‘n funksie in die kerk, net soos wat verskillende dele van ‘n liggaam ‘n spesifieke funksie het (1 Kor. 12:4-31). Elke deel is onontbeerlik en saam funksioneer dit as ‘n eenheid.

Lede van die liggaam van Christus is vervul met die Gees van Christus (Rom 8:9), ontvang die gawe van vryspraak deur Christus (Rom. 5:17), het deel aan Christus se dood en opstanding (Kol. 2:12) en is erfgename saam met Christus (Rom. 8:17).

Die vroeë Christene het saam vergader (waar hulle onder andere oor die betekenis van Jesus se lewe nagedink en gepraat het), nagmaal gehou, mense gedoop en mekaar gehelp.  Waar gelowiges saam en onderling sekere dinge gedoen en sake gereël het, het gemeentes ontstaan.  Die gemeentes (organisatories) was die resultaat van die saamwees / saamdoen van gelowiges.  Die doel was natuurlik altyd om gelowiges se geloof te laat groei en te versterk.  Ons kan dit eenvoudig stel: 'n gemeente of kerk se doel is nie bloot om 'n organisasie te stig nie, maar ter wille van die geloof (die geskiedenis het ons egter geleer dat dit dikwels in kerkwees nie meer gaan om geloof nie, maar om baie ander randsake).  Wanneer gelowiges wat dieselfde glo, sake rondom hierdie gemeenskaplike geloof begin organiseer en reël, praat ons van 'n gemeente.  Die doel van hierdie "reël en organiseer" (die gemeente wat ontstaan) behoort altyd te wees om mense op te roep tot geloof (die verkondiging van die evangelie) en tot versterking van die geloof (verkondiging en sakramente).  In 2 Kor. 12:19 skryf Paulus: "Alles wat ons doen, geliefdes, is in belang van julle geestelike opbou".  En in Ef. 4:12-15 lees ons: "Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus  .…  Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus  ….  Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe".

Ons kan dit soos volg opsom: In die Bybel gaan dit eerstens om die geloofsverhouding tussen God en mens en nie om 'n organisasie nie.  Kerk is die gelowiges (Fil. 1:1).  Paulus sê dat die gelowiges die tempel van God is (1 Kor. 3:16) en dat die Gees van God in hulle woon.  Die klem val op die geloof van die Christene en die feit dat hulle lewens nou die "plek" is waar en hoe 'n mens God dien.
 

 

4. Individuele gemeentes van die GHG word as "ekklesia completa" beskou. Gesien in die lig hiervan, hoe gaan ons verseker dat ons gemeentes getrou aan God en Sy Woord bly?

Ons moet gedurig op verskeie wyses herinner word aan die reformasie en ons eie geskiedenis.  Ons behoort getrou te bly aan die Woord en aan behoorlike, verantwoordelike verkondiging.  En natuurlik behoort die belangrike sake van die reformasie altyd vir ons 'n rigtingwyser te wees naamlik: alleen die Skrif en die geloof.  Die individuele gemeentes(kerke) in die GHG funksioneer juis dan ook as 'n ekumeniese bond wat aspekte soos leersake, akkreditasie van predikante, teologiese opleiding en kerkordelike reëlings as sake van gemeenskaplike belang sien.  'n Gees van noue meelewendheid en onderlinge ondersteuning vorm deel van ons selfverstaan. 

 

5. Daar is 'n wêreldwye beweging na ekumenisiteit. Wanneer is ekumenisiteit wenslik en wanneer moet ons dit eerder vermy?

Ekumene is wenslik waar dit tot opbou van die geloof dien.  Dit is egter slegs moontlik wanneer die gemeenskaplike deler Skrifwaarheid is.  Ekumene het ongelukkig in baie gevalle ontaard in 'n gemeenskap of drukgroep waar mag en politiek die botoon voer en waar geloof misbuik word vir veral politieke doeleindes.

 

Sien ook:
   Die GHG se Selfverstaan soos aanvaar tydens die 2018 Bondsvergadering te Pietersburg

 

.