Dagstukkie

Dagstukkie

Dagstukkie

OORDENKING

Sondag 15 Junie
Geloofshelde – Bartolomeusnag

Hebreërs 11:17

“Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: ‘Uit Isak sal jou nageslag gebore word,’ het gereed gestaan om sy enigste seun te offer.”
In die nag van 23-24 Junie 1572 is die meeste van die Franse Protestante se leiers vermoor deur Franse soldate. Hulle het opdrag van koning Charles IX gehad om soveel moontlik van die Protestante se adelikes uit te moor. Hierdie wrede moorde het die Protestante in Frankryk ’n nekslag toegedien en baie mense het hulself “terugbekeer” tot die Roomse geloof. Ander Protestante het gevlug, ook na die nuwe handelstasie aan die suidpunt van Afrika. Die Franse Hugenote het ’n nuwe tuiste in die Kaap van Goeie Hoop gevind en ’n integrale deel van ons volk se geskiedenis (selfs op genetiese vlak) geword.
Abraham is hierin vir ons tot voorbeeld. Hy was bereid, op die punt, om sy seun te offer. Hy was bereid om dit te doen in gehoorsaamheid en vertroue. Hy het geleer om op God te vertrou. Hy het nie geweet hoe God uitkoms sal bied nie, maar hy het opgetree in die vertroue dat die uitkoms wel op pad is. Sy optrede was bewys van gehoorsaamheid aan God en vertrouend dat God getrou is aan Sy beloftes. In ’n sekere sin is die dood ’n toetssteen waaroor ons kan struikel. Indien ons God raaksien, kan ons verby die dood kyk en besef dat die dood reeds oorwin is. God is getrou aan Sy beloftes en dit sluit in dat die dood oorwin is.
Somtyds lyk dit vir ons asof ons dit wat ons verstaan het as God se waarborge, ook kan verloor. Isak was Abraham se waarborg, maar hy was bereid om Isak terug te gee aan God. Klou ons dalk vas aan ons vermeende waarborge?
Dr. Johan Otto, Premiermyn

𝔊𝔢𝔩𝔬𝔬𝔣𝔰𝔟𝔬𝔫𝔡 𝔳𝔞𝔫 ℌ𝔢𝔯𝔳𝔬𝔯𝔪𝔡𝔢 𝔊𝔢𝔪𝔢𝔢𝔫𝔱𝔢𝔰 Lewensbrood 2025 - (CC BY-NC-ND)