Dagstukkie
Dagstukkie
Dagstukkie
OORDENKING
Vrydag 10 Julie
Julle is sout vir die wêreld – wees dit!
Markus 9:49-50 & Handelinge 25:1-12
As gelowiges dra ons verantwoordelikheid vir ons eie lewe en ook vir die wêreld. Die boodskap van die vergifnis van sonde en verlossing van die dood moet die basis vorm van alles wat ons doen. Dit is waarom die Here Jesus die opdrag gee dat ons sout vir die wêreld moet wees – sout preserveer en dit gee smaak, en dit is ook die gelowige se roeping op aarde. Deur ons woorde, gedagtes en dade moet die roem en eer van die almagtige Here God, luid verkondig word. Daarteen het ons nie beswaar nie – die gelowiges stem maklik saam dat ons ’n geloofsdoel op aarde het.
Geloof moet egter meer as net ’n belydenis wees, want geloof wat nie oorgaan tot dade nie, is dooie geloof – en daarom mag ons met vrymoedigheid die nodige billike stappe doen om ons geloof te kan uitleef. Ons mag – binne perke – so optree dat ons kan sorg vir reg en geregtigheid, rustigheid en vrede in die wêreld waarbinne ons leef. Die apostel Paulus het so ver gegaan dat hy hom op die keiser beroep het toe sy eie mense sy lewe bedreig het. Later is hy tereggestel, maar tot op daardie stadium het hy alles in sy vermoë gedoen om die Evangelie van Jesus Christus te verkondig en uit te leef.
In die tyd waarbinne ons leef, is dit juis soveel belangriker dat ons sal vasstaan in die geloof en sal vind wat ons hand vind om te doen. Ons weet immers nie watter medemens juis deur ons voorbeeld tot inkeer geroep word nie.
Mag dit bevind word dat ons nie lawwe sout was nie.
Ds. Jaap Steenkamp, Vryburg, Stella, Goede Hoop kombinasie
𝔊𝔢𝔩𝔬𝔬𝔣𝔰𝔟𝔬𝔫𝔡 𝔳𝔞𝔫 ℌ𝔢𝔯𝔳𝔬𝔯𝔪𝔡𝔢 𝔊𝔢𝔪𝔢𝔢𝔫𝔱𝔢𝔰 Lewensbrood 2026 - (CC BY-NC-ND)
