Die begrip volkskerk dui nie op 'n polities-sosiale kerkmodel nie, maar 'n ekklesiologies-teologiese verstaan van kerkwees. Vir onafhanklike gemeentes beteken volkskerk dus die manier van evangeliebediening - dit beteken dat ons glo dat die Woord op elke mens, in sy of haar eie taal en kultuur, 'n appèl rig.

Die ontstaan en ontwikkeling van die historiese NHKA lê u na aan die hart. Wat verstaan u onder die begrip “volkskerk”?

Die begrip volkskerk word in ons dae met ’n grimmige erns verwerp deur die kerkvorste en gesaghebbendes in die NHKA. Dit omdat die begrip volkskerk as  ’n aanduiding verstaan word van die NHKA as “kerk alleen vir die Afrikanervolk”... hoewel niemand nog ooit die begrip met daardie betekenis-inhoud gebruik het nie - behalwe die linksgesindes om daarmee die kerk in ’n ongure lig te stel. Want die begrip volk sou dat ’n eksklusiewe politieke betekenis hê wat kerklike onaanvaarbaar is. Daarom moet die NHKA alles in sy vermoë doen om hom van daardie begrip te distansieer. Dit is moontlik vir daardie rede dat die NHKA, deur ’n vroeëre Voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, aangesê is om in die voetspore van die uitgetrede Anglikaanse aartsbiskop Desmond Tutu of die NG-kerkleier, Alan Boesak, te loop om so van die etiket ontslae te raak.

Die begrip volkskerk het ’n eie en interessante geskiedenis. Aanvanklik het dit in Nederland, byvoorbeeld, die begrip nasionale kerk ingesluit omdat die Nederlandse Hervormde Kerk inderdaad die kerklike tuiste van die groot meerderheid van die Nederlandse volk was en ook die staatskerk van daardie land. In daardie sin was die NHKA in die 19e eeu iets soos ’n staatskerk in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek en het dit ’n groot deel van die volk omvat.

In die 19e eeu het dr. PJ Hoedemaker (1839–1910)  in Nederland ’n volkskerk-begrip geformuleer wat die klem laat val op die belydende karakter van die volk. Daarby het hy gestel dat die kerk ’n volkskerk was vanweë die kinderdoop, want volgens Hoedemaker se Skriftuurlike denke was die gedoopte volk ook die Volk van die Verbond met God.  Daarom was by Hoedemaker die volkskerk-begrip ’n Verbondsmatige begrip. Daarna het in Nederland die begrip volkskerk algaande al meer die beskrywing van die kerk geword wat hom met sy Bybelse  boodskap tot die geheel van die volk-van-Nederland rig.

Die probleem met die begrip volkskerk is dat die begrip nie net kan verwys na die volk van die Verbond nie maar ook na die politieke volk van ’n land. Vanweë hierdie gebruik kan volk ook ’n ideologiese begrip word. Juis hierdie aksent van die begrip volkskerk  is al verskillende male gebruik om gemeentes van die NHKA in die verleentheid te stel deur anderstaliges of lede van ander volke by ’n godsdiensoefening van die NHKA in te smokkel om sodoende te probeer om die gemeente so te laat reageer dat dit deur die koerante uitgebuit kan word. Daarom is die begrip volkskerk nie juis ’n populêre begrip nie!

Daar sal nie veel aan die situasie verander kan word nie. Miskien moet ons egter net onthou dat die begrip kerk verwys na die volk wat aan die Heer van die Kerk, Jesus Christus, behoort... die Verbondsvolk dus. Dit beteken nie dat die begrip volkskerk ’n absolute grens trek ten opsigte van taal, kultuur, herkoms en so meer nie, want die Verbondsvolk van God bestaan uit alle volke en tale en nasies. Maar ter wille van die feit dat die mens van nature geneig is om God en sy naaste te haat, sal daar in ons land altyd mense wees wat die begrip volkskerk - uit weersin teen die Afrikaner - só sal gebruik dat dit vir die gelowiges ’n verleentheid moet wees.

In ons dae is dit verder ook so dat die aanhangers van die sosialistiese ideologie diegene wat nie met hulle saamstem nie nogal met entoesiasme kan vervolg en uitsluit... let maar op die Klaaglied in die Blitspos van die NHKA van 14 Februarie 2019: “Die Kerk in die wêreld”.

Miskien moet ons daarop let dat die basiese boustene van die kerk in die eerste plek die gelowige huisgesin is. Let op 1 Tim. 5:8 of op Mat. 18:20: ”Waar twee of drie in My Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde...” Onthou tog: die konstituerende element in en van die kerk is nie een of ander belangrike kerkvors of ’n geleerde teoloog of een of ander Bybelwetenskaplike nie, maar Christus die Heer - Hy is die Herder van sy kudde; waar Hy is, is die kerk.

Miskien moet ons weer daarop let dat in die huisgesin moet die opkomende geslag geleer word wat dit beteken om gedoop te wees en lid van die Verbondsvolk te wees (lees bietjie weer die Doopformulier!) en om in dankbaarheid volgens die Tien Gebooie (die lewensreël van die volk van God), in die wêreld te leef. Die wêreld rondom ons leef kwansuis volgens die reëls van die Freedom Charter... maar dit is ’n beproewing wat ons moet trotseer... soos ons vadere na die Engelse Oorlog moes vasstaan en voortbeur.

As nou in hierdie situasie gevra word: "wat moet of kan ons doen?" is dit in die eerste plek ’n vraag wat aan die Kerkraad voorgelê moet word. En dan moet besef word dat die ouderling die amp is wat ’n sleutelrol moet speel naas die predikant wat met die verkondiging van die evangelie die gemeente moet lei en sterk maak in die geloof. Maar die ouderling is getaak om die orde en die kerklike tradisie en gewoonte in die gemeente sterk te hou en te maak. Hier sal mens dalk opnuut moet gaan kyk wat die ouderling met sy reëlmatige huisbesoek moet doen. Daarnaas moet ook miskien sterker die taak van die huisvader as die “priester van die huisgesin”  beklemtoon moet word en ook moeite gedoen word om hom daarin by te staan en te skool. Want daar in die huisgesin moet die kinders se opvoeding-in-die-geloof ’n duidelike onderdeel van die grootmaakproses wees.

Dit lyk my dat dit nodig is om te besef dat die ouderling die ampsdraer is wat van die begin af getaak was om opsig te hou... met ander woorde hy is as't ware vanaf die eerste begin van die kerk die kerk se antwoord op die ontkerstening of verheidensing van gemeenskap en volk. Vraag: hoe rus ons die ouderling toe vir sy taak?  

As die huisgesin die begin-verskyningsvorm van die kerk is, dan is die plaaslike gemeente in die tweede plek die verskyningsvorm van die kerk. Dit is in die plaaslike gemeente waar die vraag beantwoord moet word: hoe behou ons die geloof?  Hoe versterk ons die geloof,  die geestelike selfstandigheid van ons lidmate wat in ’n Christus-vyandige wêreld moet leef?

Daarom, om moontlik die gedagtes aan die gang te sit, het ek aan die volgende gedink. Is dit nie nodig dat ons dink aan die uitgee van ’n iets soos ’n Diensboek waarin ons teks en uitleg gee van:

•  Die betekenis van die godsdiensoefening en wat dit alles beteken,
•  Die teks met ’n uitleg daarby, van die verskillende Diensformuliere,
•  Die teks met ’n historiese oorsig en uitleg van die Apostoliese geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenisse van Nicea,
   Athanasius, NGB, die Heidelbergse kategismus en die Dordtse Leerreëls. 
   Hier het ons terloops al dr. Johan Otto se uitleg van die NGB en daar is ’n uitleg vanuit die NHKA van dr. Hennie Botes.
•  Dan sou ek dink dit kan interessant wees om ’n uiteensetting te kry oor die vraag : Hoe leef ek as ’n dankbare
   “gelowige” gelowige in ’n heidense land?
•  Dan ook: Wat is die Christelike lewensreël (uitleg van die Tien gebooie).

Eintlik gaan dit vir my daarom dat ons dalk daaraan kan dink om algaande ’n Christelike biblioteek vir die huisgesin te maak. Ons hoef dalk nie alles self te doen nie... maar ons moet ons mense bewapen!

Ten slotte: dit alles moet ons nie moedeloos maak nie, maar eerder ’n bietjie trots laat voel dat die Here God ons so wil toets of ons sy toegewyde en gelowige kinders is in plaas daarvan dat Hy ons as nuttelose diensknegte vir die wolwe gooi!

 

Lees ook meer oor Volkskerk in Die Skietlood 17 deur Prof HG van der Westhuizen en dr JMG Storm.#
#Sedertdien, tydens die 71ste AKV, het die NHKA hulle gedistansieer van die begrip volkskerk en is die betrokke paragraaf uit ordereël 4 van die kerkorde van die NHKA geskrap.