Geloofsbelydenis van Athanasius

Geloofsbelydenis van Athanasius

Geloofsbelydenis van Athanasius


Geloofsbelydenis van Athanasius

Vir elkeen wat salig wil word, is dit voor alle dinge nodige dat hy die algemene geloof hou;

Maar elkeen wat dit nie geheel en al en ongeskonde bewaar nie, sal sonder twyfel ewig verlore gaan.


Die algemene geloof is:

Dat ons die één God in die drievuldigheid en die drievuldigheid in die eenheid eer,

Sonder om die persone te vermeng of die substansie te deel;

Want die persoon van die Vader is ’n ander, van die Seun ’n ander (en) van die Heilige Gees ’n ander;

Maar die Vader, die Seun en die Heilige Gees is één Godheid met gelyke een en mede-ewige majesteit.

Hoedanig die Vader is, sodanig is ook die Seun (en) sodanig is ook die Heilige Gees:

Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape (en) die Heilige Gees is ongeskape;

Die Vader is onmeetlik, die Seun is onmeetlik (en) die Heilige Gees is onmeetlik;

Die Vader is ewig, die Seun is ewig (en) die Heilige Gees is ewig;

Nogtans is dit nie drie Ewiges nie, maar één Ewige;

Net so ook nie drie Ongeskapenes of drie Oneindiges nie, maar één Ongeskape en één Oneindige;

Net so is die Vader almagtig, die Seun almagtig (en) die Heilige Gees almagtig:

En tog is dit nie drie Almagtiges nie, maar één Almagtige;

So ook is God Vader, God is Seun en God is Heilige Gees;

En tog is dit nie drie Gode nie, maar dit is één God;

Net so is die Heer Vader, die Heer Seun (en) die Heer Heilige Gees;

En tog is dit nie drie Here nie, maar dit is één Heer;

want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke persoon afsonderlik God en ook Heer te noem, so is dit ook die algemene geloof verbode om van drie Gode of Here te praat.

Die Vader is deur niemand gemaak of geskape of verwek nie.

Die Seun is deur die Vader alleen, nie gemaak of geskape nie maar verwek.

Die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun, nie gemaak, geskape of verwek nie, maar Hy gaan van die Vader en die Seun uit.

So is daar dan één Vader, nie drie Vaders nie, één Seun, nie drie Seuns nie, één Heilige Gees nie drie Heilige Geeste nie;

en in hierdie Drievuldigheid is niks eerder of later nie en is niks meer of minder nie, maar al drie persone is onderling mede - ewig en volkome aan mekaar gelyk.

só, dat in alle opsigte, soos alreeds hierbo gesê, die eenheid in die Drievuldigheid en die Drievuldigheid in die eenheid geër moet word.

Daarom, wie dus salig word, moet só oor die Drievuldigheid voel.

Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy ook getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo.


Die regte geloof is dan:

dat ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus,die Seun van God, tegelyk God en mens is.

Hy is God uit die substansie van die Vader, voor alle tye verwek én mens uit die substansie van sy moeder, in die tyd gebore;

volkome God, volkome mens met ’n redelike siel en menslike vlees;

aan die Vader gelyk na sy Godheid; minder as die Vader na sy mensheid.

En alhoewel Hy God is en mens, is Hy nogtans nie twee nie, maar één in Christus;

één, nie deur verandering van die Godheid in vlees nie, maar deur die aanneming van die mensheid in God;

één, nie deur die vermenging van substansie nie, maar deur die eenheid van die persoon.

Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens één in Christus:

wat gely het om ons saligheid ontwil, ter helle neergedaal het, op die derde dag weer opgestaan het uit die dode,

opgevaar het na die hemel, aan die regterhand van die Vader sit en vandaar sa l kom om hulle wat nog lewe én hulle wat alreeds gesterf het te oordeel;

by wie se koms alle mense weer sal opstaan wat die liggaam betref en rekenskap sal gee van hulle eie werke;

hulle wat goed gedoen het, sal in die ewige lewe ingaan, maar hulle wat kwaad gedoen het, in die ewige vuur.

Dit dan is die algemene geloof : as iémand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig word nie.


Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou.

As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan.


Die algemene geloof is:

Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer,

sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.

Want die persoon van die Vader is ’n ander, dié van die Seun is ’n ander, dié van die Heilige Gees is ’n ander.

Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid.

Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees.

Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is ongeskape;

onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige Gees;

die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig.

Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige,

net soos daar ook nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes is nie maar een Ongeskapene en een Onmeetlike.

Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees almagtig;

en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige.

So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God;

en tog is daar nie drie gode nie maar een God.

Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here;

en tog is daar nie drie heres nie maar een Here.

Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem, word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te bely.

Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;

die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer;

die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit.

So is daar dan een Vader, nie drie vaders nie; een Seun, nie drie seuns nie; een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie.

En in hierdie Drieheid is daar nie eerste of laaste nie, nie meeste of minste nie, maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk,

sodat in alle opsigte, soos hierbo gesê is, die Eenheid in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid geëer moet word.

Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.

Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy ook getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo.


So is die regte geloof dan:

Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God én mens is.

Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;

volkome God, volkome mens met ’n redelike siel en menslike vlees,

na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader.

En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus.

Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God.

Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon.

Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,

wat ter wille van ons saligheid gely het. Hy het die lyding van die hel ondergaan1. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan,

na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God, die almagtige Vader, sit. Daarvandaan sal Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

By sy koms sal alle mense, met hulle liggame, opstaan en van hulle eie werke moet rekenskap gee.

En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur.

Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.



 1 HK Sondag 16 V&A 44

 Belydenis van Athanasius (Laai af as PDF - 1.3MB)