Reformasie van 1517 toegepas op 2017

Referaat gelewer deur Dr Johan Otto op die Calvinistiese Allianasie se Kongres: 19 Augustus 2017

Reformasie van 1517 toegepas op 2017

 

 

 

Die geleentheid om te praat tydens die viering van die 500 jaar bestaan van die Protestante kerk is ʼn besondere voorreg. Hierdie toespraak het ten doel om die Reformasie se boodskap weer toepaslik te maak in die 21e eeu.  Dit sal gou duidelik word dat elke nuwe geslag inderdaad voor dieselfde uitdagings geplaas word, al is dit vanuit ʼn ander oord.

Die eerste vier eeue van die Christenkerk was gekenmerk deur ʼn oorlewingstryd. Christene is vervolg op grond van hulle geloof. Die keuse ten opsigte van gesagvolle dokumente was nie-amptelik en gegrond op inhoudelike gesag. Die eerste Christene het die outeurs geken, het die kern van die boodskap verstaan, dit aangegryp en verkondig. Hierdie aangrypende boodskap het al hoe meer mense tot geloof gebring, tot op die dag dat ʼn heerser tot geloof gekom het. Enige verdagmakery wat wil beweer dat die Evangelie die resultaat is van menslike arbeid, is van alle waarheid ontbloot. Die basiese boeke en leerstukke was reeds gevestig voor die vervolging van die kerk einde gekry het. ʼn Nuwe politieke situasie het daartoe gelei dat gelowiges openlik en amptelik byeen kon kom en amptelike besluit kon neem. Die eerste konsilies het byeen gekom en moes op amptelike manier besluite neem om sodoende kettery uit te wys en aan te spreek. Teen die einde van die vyfde eeu na Christus was die basiese beginsels van die Christelike leer uitgepluis, net soos alle kettery daarna eintlik maar herhalings is van ketterye van die eerste vyf eeue van die Christelike geloof.

ʼn Duisend jaar van vrede en mag het die kerk nie bevoordeel nie. Die kloosters was inderdaad eilande van kennis en toewyding. Die amptelike strukture van die kerk was nie so onbesproke in terme van lojaliteit nie. In die elfde eeu na Christus het die kerk in twee geskeur op grond van ʼn woord wat in die Latyn vertaling van die Niceno-Constantinopolitanum – bekend as die Niceense belydenis – gevoeg is. Die filioque wat te Toledo in 589 nC bygevoeg is en in 1054nC tot die skeuring van die Katolieke kerk gelei het, is ʼn kontrovers wat steeds een van die redes is vir die bestaan van ʼn Westerse (Roomse) trajek en ʼn Oosterse (Grieks- en Russies Ortodoks) trajek. Die Oosterse trajek van die Christendom het as voertaal by Grieks gebly, met groot klem op liturgie en die mistiese van die erediens. Min klem is geplaas op leerstellings en dogmas.

Die Westerse trajek van die Christelike geloof het in Latyn gedink en aanbid. Daar was meer klem op leerstellings en suiwer dogma is ywerig verdedig. Klemverskuiwings en menslike vergrype het die Westerse Roomse kerk in ʼn krisis laat beland. Hierdie krisis het gemanifesteer in die reaksie van die Reformasie. Die intense aard van die krisis kan afgelei word uit die spoed waarmee die Reformasie versprei het en ondersteun is. Dit was veral die aflaat sisteem wat in die spervuur was. Aflate kan eintlik terug gevoer word na ʼn pous wat die Vatikaan wou bou, maar nie genoeg geld gehad het nie.

Die gevolge van die Reformasie was wydlopend. Die Reformasie het terugskouend besef dat die geskiedenis teen hom is. Die geskiedenis het duidelik uitgewys dat ʼn ingesteldheid van gearriveerdheid lei tot dwaling. Dit is waarom die wekroep van reformata semper reformanda eie is aan Protestante. Elke nuwe geslag staan voor die gevaar van sedimentasie van betekenis aan die een kant, en nuwe uitdagings en bestaansmoontlikhede aan die ander kant. Daar moet telkens terug beweeg word na die beginsels van die Reformasie. Hierdie beginsels kan in die vyf solas opgesom word.  Sola Fide: Geloof alleen. Sola Scriptura: Die Skrif alleen. Solus Christus: Christus alleen. Sola Gratia: Genade alleen. Soli Deo Gloria: Aan God alleen al die eer.

Hierdie vyf beginsels staan nie los van mekaar nie, speel in op mekaar en kan nie tot een reduseer word nie. Elkeen van hierdie beginsels kan gebruik word om nuwe uitdagings aan te spreek. Vyf honderd jaar na die Reformasie staan ons voor nuwe uitdagings wat met hierdie beginsels as fondament aangepak moet word. Die vyf solas was ook nie saam genoem tydens die Reformasie nie. Die beginsels was wel bekend, maar die verwysing na vyf solas kom uit ʼn latere era, sonder om te impliseer dat die beginsels los van die Reformasie verstaan kan word.

In wat volg, gaan ek eers die betekenis van elk van die beginsels aandui, hulle oorspronklike konteks asook hulle verwantskap met die ander beginsels. Ek gaan vervolgens moderne sake aan die orde stel wat in die huidige tydsgewrig die Evangelie bedreig – soos dit betrekking het op enige of al die beginsels. In die gees van die hervorming wil ek op besondere wyse Martin Luther se inisiatief en insette vereer. Dit wil ek doen deur af te sluit met die beskeie formuleer van 95 stellings gerig op die uitdagings van die 21e eeu.

SOLA

Juis omdat ons in hierdie tyd van fragmentasie en relativisme leef, is die eerste saak wat ons aandag verdien, die woord sola. Alleen. Met uitsluiting van ander. ‘Alleen’ staan teenoor ‘saam met ander’. Dit impliseer dat daar nie iets of iemand aanvullend is nie, dat dit nie aanvullend is tot iets anders nie. Die woord veronderstel waarheid. Die vyf solas skep die ruimte vir ʼn oortuigde lewe van geloof. Dit verwerp die bui van ʼn tyd wat geen waarheid anders as sy eie in sy taakomskrywing en roeping aanvaar nie.

Postmodernisme tref geen onderskeid tussen waarheid en iets as ‘waar’ aanvaar nie. Waarheid word gesien as ʼn saak van konsensus met geen objektiewe aspek daaraan verbonde nie. Die premisse is dat invloedryke mense by wyse van konsensus die waarheid konstrueer. Die mensdom se kollektiewe besluit word as waarheid aangebied, sonder dat daar ʼn eksterne verwysing is. Mense besluit arbitrêr wat waar is.  Geen onderskeid kan getref word tussen subjektief en objektief nie, daar is geen eksterne anker of referent wat waarheid bepaal nie. Lyotard het postmodernisme definieer as die verwerp van meta-narratiewe omdat sodanige meta-narratiewe verstaan moet word as saamgestelde stories oor die geskiedenis met die doelwitte om die mensdom se kennis en sosiale praktyke te legitimeer. Die wantroue van die nuwe ingesteldheid bemagtig sosiale konsensus en keer die mens in op homself. Anders gestel, sonder ʼn eksterne referent, bly die mens net met homself besig en word sake soos sosiale rekonstruksie en nuwe konsensus sake van groot belang. Volgens Ravi Zacharia is postmodernisme eintlik so oud soos die sondeval. Adam en Eva het gevra na die waarheid van die verbod en die gevolge wat aangedui is. Hulle het die absolute waarheid bevraagteken en ons betaal nou nog die prys. Teenoor hierdie bevraagteken van die eksterne waarheid wat God is, staan Protestante by “SOLA” en dan as vyf solas wat verskillende dimensies van God se wil openbaar.

Strukturele eenheid en ekumene is nie ‘n Skrif beginsel nie, eenheid van geloof is ‘n vanselfsprekendheid van die Skrif. Ekumeniese aktiwiteite se horisontale aanslag kan nie tot goddelike opdrag verhef word nie,

Sola Fide: Geloof alleen.

Hierdie ‘geloof’ is baie spesifiek in terme van inhoud. Dit is geloof in God Drie-Enig. Dit is die Christelike geloof. Nie net ‘geloof’ is ter sprake nie, dit is ‘net hierdie geloof’ wat bedoel word. Ander gelowe word uitgesluit, geloof as menslike geneigdheid of dalk prestasie is uitgesluit. Miljoene gelowe, Moslems ingesluit en miljoene gelowige Moslems, word uitgesluit deur die woord ‘sola’.

Die regverdigingsleer is die konteks waarbinne hierdie beginsel afspeel. ‘Waar vind ek ʼn genadige God?’ Hoe kan ek vreesloos voor God gaan staan? Hierdie vrae soek na die antwoord op die vraag na saligheid. Die mens is sondaar en is daarom bestem tot die verdoemenis. Die mens se uitkomkans is daar waar regverdiging kan geskied. Watter werke, watter gelde, watter toevoegings of gebede of vaste kan die mens red? Nie een van hulle kan nie. Regverdiging is iets wat in geloof ontvang word. Ons regverdiging lê daarin dat God ons sondes op Jesus geplaas het en in Hom ons sondeigheid gestraf het en nou Christus se verdienste aan ons toereken. Hierdie dubbele genade word net in geloof aanvaar. Die gevaar bestaan dat geloof ʼn nuwe werksaligheid kan impliseer. Die ydel mens wil van geloof ‘n werk maak wat ʼn mens red; dat jy glo, sou maklik omskakel kon word tot ʼn saak van menslike prestasie. Die konteks van geloof is daarom van uiterste belang.

Hierdie geloof is gewortel in genade. Die mens se saligheid is ten volle te danke aan genade. Dit is God se genade wat die mens se saligheid verseker. Die mens kan niks doen om sy saligheid te versien nie. Geloof is die logiese antwoord op hierdie werklikheid. Regverdiging deur geloof is die menslike keersy van die feit dat dit God se vry wil is wat die genade gee.

In die moderne era is dit die humanisme en die verheerliking van die mens wat op besondere manier in die kollig kom wanneer ons wil praat oor geloof alleen. Die mens en sy vermoë kom tot uitdrukking in sake soos demokrasie. Die mens se intellek het ook al soveel bereik. Teenoor hierdie humanisme word die gees van die tyd teruggeruk na hierdie een waarheid. Geen stemming, geen menslike prestasie, geen menslike verdienste of barmhartigheid kan die mens red nie.

Teenoor ander godsdienste moet die ook duidelik gestel word dat ons saligheid slegs deur geloof vir ons verseker word. Teenoor die Moslems moet ons getuig dat daar net geloof kan wees, geen djihad of pelgrimstog of vas of ander menslike verdienste nie. Teenoor die Budhiste moet getuig nie een van die volgende ons saligheid kan bewerkstellig nie, nie ons selfdissipline, meditasie en stimulasie van shokras of reïnkarnasie kan ons red nie, net geloof. Teenoor Christelike sektes moet ons bevestig dat geen werkgeregtigheid geduld sal word nie, geloof is genoeg, net geloof word verwag.

Sola Scriptura: Die Skrif alleen.

John Wesley het gesê dat die kerk deur die Skrif beoordeel word, nie die Skrif deur die kerk nie? Die sentrale rol van die Skrif, en die Skrif alleen, mag nie onderskat word nie. Die eerste Reformatore moes die klem op die Skrif plaas teen die agtergrond van Roomse praktyke. Tradisie, konsiliebesluite en Pouslike dekrete was almal ewe gesagdraend in die Roomse kerk. Dit was veral tradisie wat gebruik is om sekere vergrype en dwalings te regverdig. Daarmee saam is die kanon uitgebrei deur sekere deutero-kanonieke boeke in te sluit.

Die Bybel bevat nie alle inligting nie, maar dit bevat alles wat ons nodig het vir ons saligheid. Indien iets nie in die Bybel gevind kan word nie, is dit nie bindend vir Christene nie. Die kerk se gesag lê daarin dat die kerk die Bybel getrou moet interpreteer en verkondig. In die konteks van interpretasie is die gedagte dat die Skrif homself interpreteer -  Scriptura sui ipsius interpres – ʼn belangrike riglyn.

Die Skrif alleen is die kerk se betroubare, voldoende en onfeilbare bron van inligting wanneer ookal sake van geloof bespreek word en besluite oor leerstellings gemaak word. Dit beteken nie dat Reformatore nie die vroeë Christene se geskrifte gelees het nie, hulle het uitgebreid aangehaal uit die eerste Christene se preke en traktate sonder om te wil aandring daarop dat hierdie geskrifte onfeilbaar geïnspireerd was. Hulle het besef dat mense sondaars is en foute maak.  Chrysostomos het gestel dat Christene net een meester het en dit is nie hy nie, maar die Skrif. Die Skrif leer Christene alles wat hulle nodig het.

Die rol van die Heilige Gees moet beklemtoon word. Dit is net deur die Gees dat die Skrif ontvang en gehoorsaam kan word. Dit is die Heilige Gees wat as outeur mense oortuig van die gesag van net die Bybel alleen.

Dit is net in die Skrif waar ons lees van die genade, van geloof en van Christus. Die Bybel is die enigste bron vir verkondiging en evangelisasie. Die Reformasie het die primaat van die Skrif beklemtoon teenoor die Roomse kerk wat ander bronne soos die tradisie gelyke gesag gegee het. Hierdie gesprek gaan vandag nog voort. Die Reformasie moet egter ook opnuut hierdie wekroep opneem teenoor ʼn verskeidenheid van groeperinge wat die Bybel wil relativeer.

Die kerk het nog altyd die gesag van die Skrif as ‘n interne gesag aanvaar. Die Bybel se gesag word erken, nie toegeken nie. Dit is nie kerklike besluite wat gesag aan die Skrif gee nie, die Skrif gee gesag aan kerklike besluite. Die belydenisskrifte is kerklike dokumente en het per konsensus gesag vir die kerk. Die enigste norm, ook vir taksering van die belydenisskrifte is die Bybel.

Na die een kant moet gewaak word teen die liberale stroom binne die akademie. Dit is veral die ontdekkings by die Dooie See en Nag Hammadi wat gemaak het dat die voorrang van die Skrif in hierdie kringe bevraagteken word. Dit is veral bronne soos die evangelie van Tomas wat sterk op die voorgrond geplaas word. Daar is ook ander apokriewe geskrifte wat deur akademici gebruik word om die Bybel te minimaliseer. Sodanige akademici kan dalk aanspraak maak op akademiese aktiwiteite, maar is beslis nie meer besig om die Reformatoriese saak te dien nie.

Die tweede groep wat die sola scriptura bevraagteken is die ekumene. Dit is veral ekumene in die breedste sin van die woord wat hiermee besig is. Indien die postmoderne premisse aanvaar word, volg dit logies dat die Koran en die Upanishads en die boek van Mormoon en al die ander geskrifte van gelowe geldig is, vensters na God is. Die Bybel is geen venster na God nie, God is nie ʼn pou in ʼn kou wat beloer kan word nie.  Die Bybel bewerkstellig ʼn persoonlike ontmoeting met God, God stel Homself deur die Bybel aan ons bekend. Geen mate van menslike ordentlikheid en politieke korrektheid gaan maak dat ons God skielik langs ander weë kan ken of sien nie. Openbaring is goddelike inisiatief en ons moet daarby berus en God soek sola scriptura.

Solus Christus: Christus alleen.

Die tema bly maar altyd die mens, ons kan maar net nie bokant ons vasgevange menswees uitstyg nie. Dit is in ons soeke na saligheid wat ons by ʼn antwoord kom wat gegee is reeds voordat ons gevra het. Ons saligheid word verseker deur Jesus Christus, en Sy dood en opstanding alleen kan dit bewerkstellig. Ons kan deur hierdie selfde Jesus tot die Vader nader. Vreemd genoeg is hierdie antwoord nie goed genoeg vir die mens of vir die Roomse kerk nie. Die Roomse kerk se klem op Heiliges as middelaars was nog altyd vir mense ʼn aanloklike gedagte. Die heiligverklaring van Maria stel baie gerus omdat hulle via die moeder van God meer mag het. Bid via Maria, sy is vrou en menslik en as moeder van Jesus luister Hy na haar, jy moet tog doen wat jou ma sê! In die tyd van die Reformasie was dit kwansuis die heiliges se oormag goeie werke wat tot oorlopens in ʼn skatkis in Rome gelê het, wat gebruik is om aflate se verkoop te regverdig. Die skema het so gewerk; die heiliges het meer goeie dinge gedoen as wat hulle vir hulle saligheid nodig gehad het. Hierdie goeie dade is in bewaring by die Pous en jy kan van daardie goeie dade oorkoop om jou eie saligheid te verseker of om ʼn geliefde van die vagevuur te red.

Die moderne mens het nie meer daardie skatkis nodig nie. ʼn Onderbeklemtoning van sonde het die moderne mens met ʼn swak of afgewaterde sondebesef gelaat. Daarmee saam het die inklusiwiteit van die Evangelie mense oortuig dat almal eintlik op pad is na die hemel. Dit is die moderne mens beskore om goeie dade te doen en net ʼn ekstra waarborg te bewimpel. Die benadering wat stel dat mens net ʼn goeie lewe moet lei, is algemeen bekend en wyd aanvaar.

Diegene wat erns maak met die sonde, vind wel ander maniere om Christus te kry om eenkant toe te skuif en plek te maak vir reddende sake soos spreke in tale, groot doop of selfs weer doop, die gee van ʼn volle tiende en ander geloofshandelinge wat menslike saligheid verseker. Die lys kan aangevul word deur te verwys na diegene wat barmhartigheid sien as die ekstra sleutel wat die poorte gaan oopsluit.

Solus Christus hou verband met die sola scriptura in die sin dat Jesus se geboorte, lewe, sterwe en opstanding behoorlik in die Bybel gedokumenteer word. Ons leer net in die Skrif van Sy reddende werk. Jesus se reddende werk word toeganklike kennis vir die mens sola gratia; dit is net God se genade dat ons verstaan en aanvaar dit wat God in Christus vir ons gedoen het. Genade roep ons tot geloof en dit is deur geloof, sola fide, wat die objektiewe genade subjektiewe genade word, met ander woorde dat ons die redding werklik toeëien.  Jesus Christus se koms en genade is alles gedoen sodat God al die eer sal kry.

Sola Gratia: Genade alleen.

Ons word in genade gered van God se toorn. Dit is vanselfsprekend dat gestel moet word dat dit die sonde is wat God se toorn wek. Die mens het met ander woorde self God kwaad gemaak. Hierdie kwaad noem ons toorn omdat dit ʼn konsekwente verwerping is van ʼn onaanvaarbare situasie. Die mens was sonder sonde geskep, het met ander woorde in vrede met God gelewe, kon met vrymoedigheid met God praat. Die mens is die voorreg gegee om beelddraer van God te wees. God was geensins toornig teenoor Sy skepping nie. Die mens se opstandigheid het die situasie menslik gesproke permanent verander. Dit was nie ʼn eenmalige gebeurtenis wat ʼn oomblik van woede tot gevolg het nie, daar was ʼn wesensverandering wat ʼn aanhoudende oortreding aandui. As konstante sondaar het die mens permanent God se toorn verdien.

Sonde is die mens se onvermoë om aktief of passief gehoor te gee aan die wet van God. Ons mis almal die merk en dit ontbreek ons almal aan die heerlikheid van God.  Sonde het die mens gebind en geestelik doodgemaak. Net so min jy jou aan jou skoenveters uit ‘n moeras kan trek, net so min kan die mens uit eie inisiatief of verdienste hierdie geestelike dood verander. Die mens se verdorwe natuur het enige hoop totaal vernietig. God se genade, en God se genade alleen bring die mens tot saligheid.

Die Reformatore het na verskillende kante hulself moes afgrens teenoor die Roomse denke. Die dwaling van Pelagius was wel ʼn duisend jaar voor die hervorming al verwerp, maar mense wil maar altyd bydraes tot hulle saligheid lewer. Sinergisme wat stel dat daar samewerking is, word verkies bo Monergisme as die leer wat stel dat God alleen ons redding bewerkstellig. Saligheid het in Roomse denke iets geword wat ʼn kombinasie is van God se genade en menslike goeie dade gedoen in liefde. Die vertroue wat mense in die meriete van hulle goeie dade geplaas het, het van saligheid ʼn saak op ʼn glyskaal gemaak. Hoe meer goeie dade die mens gedoen het, hoe minder genade het daardie mens nodig, by wyse van spreke.

Genade is God se vrye geskenk wat deur die Heilige Gees onverdiend aan ons gegee word deur die versoenende werk van Jesus Christus (solus Christus). Hierdie genade word in die Bybel (sola scriptura) aan ons openbaar. Ons lees in Efesiërs 2:7-8 sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. John Newton se lied “Amazing grace” wys dat hy begryp het dat God se onbeskryflik grote genade ʼn geskenk is wat in vrye liede aan ʼn mislike mens gegee word. Om sola gratia te verwerp, is om die enigste Evangelie te verwerp. Teenoor genade staan verdienste en menslike prestasie. Dit lewer mense uit aan willekeur. Geen wonder Luther het in angs uitgeroep en gewonder waar gaan hy ’n genadige God vind nie. God se genade word net duidelik indien die Evangelie se volle boodskap verstaan word.

Soli Deo Gloria: Aan God alleen al die eer.

Redding is God se geskenk aan ons, dit het begin by God en is tot Sy eer bewerkstellig. Ons saligheid is die dryfveer wat maak dat ons God, en net Hom sal verheerlik vir die wonderlike genade wat Hy aan ons gee.

Die humanisme sou meer wou maak van die mens en dit wat die mens vermag. Daar is inderdaad vordering op verskillende vlakke van die mens se bestaan. Die kombinasie van prestasies wat gemaak het dat die mens se lewensverwagting meer as verdubbel het, is verstommend. Tog kan geen menslike prestasie iets van die eer en heerlikheid van God wegneem nie. Mense strewe na sterstatus, om so verering en lojaliteit te verseker. Tog is daar een wat ware sterre geskep het en dit is net Hy wat alle adorasie verdien.

Moslems moet kennis neem dat alle eer aan God alleen toekom. Geen hoeveelheid selfmoordaanvalle met ʼn geskreeu van Allah AkbarAllah is groot – gaan wegneem daarvan nie dat alle glorie net aan God behoort. Respek vir mense en hulle oortuigings kan nooit maak dat ons aan God minder gee as alle eer nie. Die Reformasie het met oortuiging voortgegaan, juis in die oortuiging dat alle eer aan God gegee kan word slegs daar waar God alleen gedien word. God is ‘n jaloerse God wat geen ander menslik geskepte afgod sal duld nie.

 

Sola

  1. Die samelewing se denke is deur die postmoderne gees gekorrupteer om te aanvaar dat daar geen objektiewe waarheid is nie.
  2. In die moderne samelewing is daar ʼn fragmentasie wat dit moeilik maak om een saak of een beginsel uit te sonder.
  3. Dit is eie aan die aard van die Protestantisme dat daar tog sekere beginsels aanvaar word wat vir tyd en ewigheid geldig is.
  4. Ons aanspraak op Protestantwees kan deur die woord sola opgesom word.
  5. Die woord sola dui daarop dat daar aanspraak gemaak word op uniekheid in ʼn ruimte van verskeidenheid.
  6. Sola dui op ʼn aanspraak op eksklusiwiteit wat gemaak word.
  7. Die woord sola dui gelyk op die ruimte waarbinne inklusiwiteit verstaan kan word.
  8. Sola dui op ʼn aanspraak op eksklusiwiteit wat gemaak word in ʼn samelewing wat amorfe inklusiwiteit tot beginsel verhef het.
  9. Sola verklaar dat daar ʼn waarheid is wat absoluut is.
  10. Dit beteken dat daar ‘n objektiewe waarheid is wat geld vir alle tye en alle geslagte.
  11. Sola maak ʼn aanspraak op hierdie objektiewe waarheid as iets wat gedefinieer word deur die woord wat volg.
  12. Die begrip sola het ʼn bepalende impak op die konsep van ekumeniese skakeling.
  13. Die woord sola skep die ruimte waarbinne enige ekumeniese skakeling moet geskied.
  14. Enige gedagte of teologiese denkrigting wat indruis teen die inhoud van die 5 solas, word vanselfsprekend uitgesluit.
  15. Deur elk van die vyf aansprake nader te bepaal met die woord sola, koppel die Reformasie hierdie begrippe onlosmaaklik aan mekaar.
  16. Die eenheid van die kerk word deur die vyf solas

Sola fide

  1. Die eenheid van die kerk kan gevind word in die oproep tot geloof alleen.
  2. Geloof is die produk van God se genade.
  3. Geloof is die produk van God se genade deur die werking van die Heilige Gees.
  4. Geloof is geen menslike prestasie nie.
  5. Geloof word nie deur menslike aktiwiteite aangestig of aangemoedig nie. Daar is geen nodigheid vir ‘n angs rondom werk-saligheid nie.
  6. Geloof en geloofsekerheid is ‘n gawe wat ervaar word. Dit maak ons nie minder of meer gelowig nie, so kan daar nie groot en klein Christene wees nie.
  7. Die mens twyfel soms, tog verwyder dit nie geloof nie. Twyfel bevestig juis die brose aard van geloof.
  8. Daar is net geloof en ongeloof. Bygeloof is inderwaarheid ongeloof.
  9. Geloof word nie aangevul deur meditasie of ander tegnieke wat uit ander godsdienste oorgeneem word nie.
  10. Dit is net moontlik om te glo in God Drie-Enig. Derhalwe is geloof en vertroue in ander entiteite of afgode per definisie ongeloof of bygeloof.
  11. Geen mens kan deur geweld in God se naam ‘n plek in die hemel oopdwing nie, dit is nie moontlik om met ‘n selfmoordbom God se guns te verseker nie.
  12. Die praktyke om geloof aan interne Christelike voorwaardes te onderwerp is menslike pogings om mense prestasie weer deel van die saligheid te maak.
  13. Daar is nie stadiums of ‘n orde van saligheid (ordo salutis) nie.
  14. Dit is ‘n dwaling om geloof aan te vul met groot doop, spreke in tale of enige van die sogenaamde charismata wat vandag aan mense voorgehou word.
  15. Geloof is voldoende vir ons regverdiging. Enige aktiwiteit aan ons kant is louter dankbaarheid.
  16. Geloof alleen is geloof in Christus alleen as die Middelaar tot die ontmoeting met die Triniteit.
  17. Ons word tot geloof geroep deur die lees en prediking van die Bybel inhoud.
  18. So is dit ook nie noodsaaklik om geloof aan te vul met Sabbatsviering op die Saterdag en vas op sekere dae nie.

Sola gratia

  1. Die eenheid van die kerk kan gevind word in die stelling dat redding deur genade alleen aan die mens gegee word.
  2. Genade alleen beteken dat die eenheid van die Kerk nie in verpligte strukture gevind word nie, maar in die eenheid van ontvangs en dankbaarheid.
  3. God se genade word aan alle mense aangebied, want so lief het God die wêreld dat Hy sy Seun gestuur het sodat elkeen wat glo gered kan word.
  4. God weerhou nie sy genade totdat die mens ‘n teenprestasie gelewer het nie
  5. God keer Hom tot ons in genade en daarom staan ons nie onder God se toorn nie,.
  6. God se genade word nie aangevul met menslike prestasie nie.
  7. Die mens se barmhartigheid het tekorte, selfs die beste pogings is nie volmaak nie. Hierdie tekorte word nie ter wille van saligheid deur God se genade aangevul nie.
  8. Daar is geen glyskaal waar wisselwerking tussen genade en verdienste balanseer word nie.
  9. Enige aandrang op menslike aktiwiteit as verdienstelik voor God, is om die Evangelie te verwerp.
  10. Die mens se vermoë om goed te doen, is die resultaat van God se genade, soos ons lees in Efesiërs 2:10 waar ons opgeroep word tot goeie dade.
  11. Ons is gered deur God se genade, juis daarom kan dit nie anders as dat ons ons lewens vul met goeie dade en barmhartigheid nie.
  12. Genade word nie opgewek of versterk deur groot doop of spreke in tale nie.
  13. God se genade word deur die Bybel aan ons verkondig sonder dat ons moet staat maak op menslike handelinge om hierdie versekering te ontvang.
  14. God se genade maak dit onnodig om jouself die saligheid te verseker deur ‘n fanatisme wat selfs op terreur uitloop.
  15. Hierdie genade van God het God se Seun sy lewe gekos en enige menslike byvoegsel impliseer ‘n degradering van die absolute self-opoffering van die Seun.
  16. God se genade staan teenoor enige menslike prestasie of toevoeging. Genade is ‘n oortreflike kategorie op sy eie.
  17. Menslike meditasie en verdieping in geestelike sake lei nie tot genade nie, genade is die tema van meditasie en geestelike verdieping.

Sola scriptura

  1. Die eenheid van die kerk kan gevind word in die erkenning dat God se openbaring gevind kan word in die Skrif alleen.
  2. Die Skrif se interne getuienis maak dat net hierdie 66 boeke as gesag vol aanvaar word.
  3. Die Bybel is nie die produk van ‘n menslike magspel en geforseerde sinodale besluite nie.
  4. Die ideologie wat die Bybel verdag wil maak op grond van vermeende politiekery moet verwerp word.
  5. Die Bybel se inhoud word nie bepaal deur tradisie, persoonlike gesag (soos die pous of die voorsitter), of vergaderings nie.
  6. Die Bybel is nie een godsdienstige boek tussen ‘n koor van stemme nie.
  7. Inhoudelik het die Bybel ‘n koor van stemme wat dieselfde boodskap dra.
  8. Die Ou Testament is profeties en heilshistories die logiese en noodsaaklike voorloper tot die Nuwe Testament.
  9. Die Bybel verkondig God se openbaring soos dit werklikheid geword het in Christus.
  10. Die Koran is nie ‘n aanvullende openbaring van God nie.
  11. Die Koran is ‘n menslike boek wat sekere temas en persone uit die Bybel oorgeneem het om ‘n eie menslik-ideologiese manifes daar te stel.
  12. Die boek van Mormoon is geen verdere openbaring wat deur God aan die mense gegee is nie.
  13. Tradisie en nuwe menslike insigte kan nie bo- of gelyk gestel word aan die Skrif nie.
  14. Die belydenisskrifte steun op die Skrif vir gesag, die Skrif se gesag is intern genoegsaam.
  15. Die huidige belangstelling in die Nuwe Testament Apokriewe is ‘n menslike dwaling wanneer die Apokriewe meer gesag gegee word as die boeke van die Bybel.
  16. Die Apokriewe boeke dra geen interne gesag nie en kan daarom nie by die Bybel gevoeg word nie. Die vroeë kerk het hierdie boeke geken en hulle verwerp op grond van hulle inhoud.
  17. Enige benadering wat die absolute gesag van die Bybel in twyfel trek, is in wese ketters. Teen dié agtergrond is die post moderne benadering ‘n dwaling.

Solus Christus

  1. Die eenheid van die kerk kan gevind word in die belydenis dat daar net een Saligmaker is en dit is Christus alleen.
  2. Met die versoeningswerk van God in Christus is die openbaring afgehandel.
  3. Christus is nie net ‘n profeet naas ander profete nie, Hy is die ware Seun van God.
  4. Daar is net een waarheid, net Een wat die waarheid waarborg. Hierdie Een is die Waarheid.
  5. Jesus identifiseer Homself as die Waarheid en daarmee verwys Hy onder andere daarna dat God net deur Hom bereik kan word.
  6. Alle gelowe is nie paadjies langs dieselfde berg op nie, daar is net een weg.
  7. Daardie een weg loop verby die kruis van Golgota en is eintlik werklik gebaan deur die leë graf heen.
  8. Die genade van God word net deur Jesus Christus aan ons uitgedeel.
  9. Dit is ‘n dwaling om die uniekheid van Jesus Christus te ontken of te minimaliseer.
  10. Enige poging om Jesus Christus se twee nature te ontken, het verreikende gevolge vir die teologie en in die besonder die leer oor die Triniteit.
  11. Enige persoon wat die ware Godheid van Christus ontken, is skuldig aan een van ‘n reeks ketterye wat reeds deur die kerk afgewys is. Dit sluit in die dwalings van Modalisme, Patripassisme en die lering van Arius.
  12. Die Heilige Gees oortuig ons daarvan dat Jesus Christus die Middelaar en waarborg is van ons saligheid.
  13. Die Heilige Gees verkondig Christus en niemand anders as Hom nie.
  14. Die Gees is Trooster totdat Christus kom. Diegene wat die Heilige Gees in die middelpunt van hulle geloof en kerkwees plaas, verloën Christus in hulle soeke na ervarings godsdiens.
  15. Spreke in tale en ander charismata is nie die waarborg van saligheid nie, net Christus is ons vaste anker.
  16. Jesus staan nie langs Budha, Vishnu, Mohammed of enige ander mens of mensgemaakte entiteit nie. Om saam met mense te bid wat hierdie name op hulle lippe neem, is lasterlik teenoor God.
  17. Slegs deur Jesus Christus te ken en verstaan, kan ons in opregtheid ons geloof in God Drie-Enig bely. Ons is monoteiste maar gelyk ook Trinitariërs.
  18. God se genade word aan ons gebied slegs deur Christus se heilshandelinge heen.
  19. Net Jesus Christus is ware mens en ware God. Ware mens om ons sondes te kon dra en ware God om ons sondes te kon wegdra. God se genade ontmoet ons in Christus Jesus
  20. Deur Christus bring ons aan God al die eer.

Soli Deo gloria

  1. Die eenheid van die kerk kan gevind word in die belydenis dat daar net een wese is wat Almagtige is en daarom kom alle eer God alleen toe.
  2. Die moderne mens se verering van helde en sterre staan gevaar dat die eer aan die mens gegee sal word.
  3. Mense wat in die mediese wetenskap steeds grense van menswees en oorlewing verskuif, staan gevaar om aan die mens die eer te gee.
  4. Diegene wat in hubris dink dat die mens die grootste impak op die natuur het, word deur hul eie trots verblind. God is die een wat geskep het en die enigste een wat die skepping kan onderhou.
  5. Verandering in klimaat weerspieël nie iets van die mens se aktiwiteite nie, dit weerspieël iets van God se skepping.
  6. Die Reformasie en die 500 jaar daarna staan nie onder die hofie van menslike prestasie nie, maar is aan God alleen te danke. Aan Hom al die eer.
  7. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom alleen alle eer.

 

--

Dr Johan Otto