Oor eeufeeste en saam met wie mens dit nie vier nie.

Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria vier vanjaar sy eeufees en het op 31 Oktober ook die Kerkhervorming herdenk. Ek is daarheen genooi (synde ‘n alumnus van die Fakulteit) maar het laat weet dat hulle my nie moet verwag nie, want die Fakulteit waar ek studeer het en die huidige (wat van volgende jaar af die Fakulteit Teologie en Godsdienste sal heet), is nie dieselfde instelling nie. Dit blyk byvoorbeeld uit ‘n “geloofsbelydenis” wat deel was van die akademiese wydingsdiens gehou op 6 Maart in die Musaion.

 

Tydens die drietalige diens was dr Tanya van Wyk (dosent vanweë die NHKA) die prediker. Die nuwe geloofsbelydenis wat voorgehou is, lees soos volg:

Na een eeu (ʼn Ekodomie* geloofsbelydenis) :

Ons glo in God, die almagtige Ouer, die God van Rebekka en Jakob,en van elke Leviet, elke vreemdeling, elke pelgrim en swerwer op aarde.

Ons glo in Jesus Christus die eniggebore Seun, ons Here;

Hy is die weg en die waarheid en sy eerste volgelinge het sy nalatenskap “Die weg” genoem.

Ons glo in die Gees, die Gees van God en die Gees van Christus.

Dit is die Gees wat ons in die volle waarheid lei; ʼn soepel waarheid wat hekke oopsluit en wat innooi.

Ons glo in God Drie-enig, ons Reisgenoot wat ons help om te onthou dat ons kinders van swerwende Arameërs is;

dat ons self ook vreemdelinge en bywoners is op hierdie aarde,

besoekers op pad na die eendag waarheen ons hoop reik;

en dat alle oop hekke, soos ook die aarde, aan God behoort. Amen

 

‘n Geloofsbelydenis is so ‘n gewigtige saak dat kerke mekaar daaroor raadpleeg. Dit druk immers die gemeenskaplike geloof uit waarop ná ernstige bestudering van die Bybel ooreengekom is. Soos prof Pont altyd vir ons gesê het: “’n geloofsbelydenis word nie sommer op ‘n blou Maandagmôre geskryf nie.” Die Fakulteit staan egter lankal nie meer naby die kerk nie. In bostaande “geloofsbelydenis” kan die invloed van die feminisme, die gasvryheidsteologie, die gevolg van die historiese Jesusnavorsing en die postmodernisme onder andere, raakgelees word. Om dan nie te praat van die totale gebrek aan sondebesef nie.

Nou was die Fakulteit nog altyd vir die Kerk (= Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika) belangrik, want dit is daar waar sy predikante opgelei is. Sal dit moontlik wees om ‘n som te maak van hoeveel geld sedert die beginjare met die Koopmansfonds en later by wyse van heffings, ingesamel is vir die teologiese opleiding sodat die Kerk goedopgeleide predikante kan kry?

Maar sedert die 1990’s was daar dosente wat hulle nie meer aan die kerklike belydenis gebonde gevoel het nie. Dit het sy navorsing geïnhibeer, het die een gesê. Dit ten spyte van sy handtekening onderaan die proponentsondertekenings-formule. Nie een was bereid om die kerkordelike weg te loop en ‘n gravamen in verband met ‘n belydenissaak by die Algemene Kerkvergadering in te dien nie. Maar hulle het elke maand hulle salaris ontvang! Wanneer beswaar gemaak is teen hulle afwykinge en hulle daaraan herinner is dat hulle dosente is ter wille van die Kerk, is daar keer op keer gesê dat wat by die Fakulteit gebeur niks met die Kerk te doen het nie! Of dat die Kerk slegs 30% van hulle salarisse betaal. Maar nie een het gesê nee dankie vir die 30% wat dikwels deur swaarverdiende heffingsgeld deur ou ooms met afrûe en ou tannies met afknieë ingesamel is nie.

Na afloop van die wydingsdiens was daar ‘n seremonie by die oop hekke wat voor die breë ingangspad na die Fakulteit geplant is. Dit is simbool van die gasvryheidsteologie waarvolgens geen vreemdeling meer uitgesluit sal word nie. Vreemdelinge moet ingenooi en omhels word maar nie te styf dat hulle voel dat hulle identiteit hulle ontneem word nie, net só dat hulle welkom voel. Geen wonder die verrigtinge is afgesluit met ‘n seënbede in die woorde van Desmond Tutu nie!

Op 30 Julie weer, is ‘n dankdiens in die NG Gemeente Universiteitsoord se kerkgebou gehou. Die tema was die oopmaak van die hekke en ‘n ekumeniese Nagmaal is gevier.

Op Hervormingsdag is ‘n ekumeniese diens gehou waartydens die tema “Let us be one” voorop gestaan het. Daar was nogal ‘n keuse in verband met kleredrag: Formeel, tradisioneel of nasionale kleure! Daar is ook geadverteer dat die vier kerklike vennote en daarna die studente, ‘n verklaring sal onderteken. As mens kyk na wat die wydingsdiens opgelewer het, dan kan ons maar net raai wat in so ‘n verklaring sal staan wat ook die toekomstige predikante van die NHKA sal moet onderteken.

(Ds Lewis Strauss, Bloemfontein)

 

* Die oorhoofse navorsingstema van die Fakulteit is ‘Ekodomie: lewe in volheid’. Dit beteken kortliks om die koninkryk te bou. Navorsing in etiek, die omgewing, gender, asook teologiese of religieuse temas met sosiale implikasies is van besondere belang. Dit sluit xenofobie, diskriminasie en geweld in die gemeenskap in. Die Fakulteit doen navorsing oor unieke temas wat plaaslik relevant is en tog ‘n internasionale reikwydte het. Heelwat van die navorsing is interdissiplinêr en sluit internasionale deelname in.

(2017/2018 Voorgraadse Fakulteitsbrosjure).

 

οίκοδομην – to increase the potential of someone, with focus upon the process involved – to strengthen, to make more able, to build up according to the authority which the Lord has given me to build you up, not to tear you down or … to strengthen and not to weaken – 2 Kor.13:10 (Louw & Nida).

(http://communitas.co.za/tag/sal-ontwikkel/)

 

Die tyd sal wel sy oordeel fel oor die tipe teologie wat aan die hand van hierdie nuwe term in Afrikaans bedryf word. Vir my lyk dit baie na iets vergelykbaar met kapstokprediking. Dit wat die Fakulteit betref. Maar ook die Kollege wat aan die Fakulteit gekoppel is met die bedoeling om Hervormde teologie en etos te bewaar, luister ook skynbaar nie meer na die Bybel nie maar tree daarmee in gesprek.

(Sien advertensie in [email protected] 9 November 2017 Jaargang 10 – Uitgawe 37, bo-aan bladsy 5)