KOM ONS RED DIE HUWELIK

Die toestemming tot “gay huwelike” in die NG kerk het met ‘n aanloop gekom. Die reformatoriese gemeenskap was dus nie uitermate verbaas oor hierdie besluit nie. Dit is egter nou tyd vir nabetragting en die vraag is: het die feit dat die tradisionele, Bybelse konsep van die huwelik al vir lank gesaboteer word dit makliker gemaak vir ‘n kerkeenheid om uiteindelik so ‘n besluit te neem? Die Algemene Sinode van die NG Kerk het in 2011 met die erkenning van “sleg-goed-beter-beste” saamwoonopsies reeds die konsep van die huwelik gereduseer tot ‘n “beste saamwoonverhouding” (Besluit 31 oor die huwelik en saamwoon). Voorsiening word hier gemaak vir konsepte soos “proefhuwelike”, “etiese saamwoonverhoudings” en “onbevestigde huwelike”. Het hierdie besluit die pad makliker gemaak vir die toestemming tot voltrekking van “gay huwelike”? Het die kerke in Suid-Afrika, skuld aan die ondermyning en uiteindelik herdefinïering van die huwelik? Hoekom word ons so gereeld deur die wêreld van dubbele standaarde en skynheiligheid beskuldig? Het ons nagelaat om die huwelik te koester en aan dit die nodige agting te toon wat dit verdien? Ons sal moet erken dat ons nie heeltemal onskuldig staan aan hierdie aanklagte nie. Indien ons behoudende kerke wil hê die wêreld moet ons waarskuwing ernstig opneem dat “gay huwelike” die fondasies van die samelewing sal verbrokkel, sal ons eers ernstig moet gaan kyk na die faktore wat bygedra het dat die samelewing en kerk nou op hierdie plek is. Ons sal weer die betekenis van die huwelik moet ontdek en eerbiedig, die faktore in ons midde wat die huwelik verswak moet aanspreek en onsself opreg verbind tot ‘n wil om die huwelik as instelling van God te beskerm en te bevorder.

Ons het die huwelik verswak en daarmee ons outoriteit as kerk

Ons versuim as kerk om kwessies wat die huwelik erodeer aan te spreek het ons getuienis na die wêreld beskadig. Daardeur is ons morele en geestelike outoriteit verswak. Charles Spurgeon het die volgende waarheid gesê: “In proportion as a church is holy, in that proportion will its testimony for Christ be powerful”. Dit is heiligheid wat aan ons die grootste getuienis gee. Die wêreld gaan nie na ons luister as ons nie doen wat ons preek nie. En hoe kan ons sonde in die samelewing blootlê as ons self sit met openlike sonde in die kerk? Op watter basis kan ons byvoorbeeld onsself teenoor gay “huwelike” uitspreek as ons toegelaat het dat ons self die huwelik op subtiele maniere herdefinieer? Want in ons kerkgemeenskap, ook in gemeentes van die Geloofsbond, is daar ‘n groot hoeveelheid egskeidings en ‘n nonchalante aanvaarding van voorhuwelikse seks en saamwoon. Saamwoon en “geen-fout”-egskeiding (wetlik ingestel in 1979) ondermyn die huwelik al vir jare. As ons die huwelik help vervlak het, hoe kan ons van ander verwag om aan dit die nodige respek en heiligheid te toon wat dit verdien? Hoe kan ons dan ook van ander verwag om te aanvaar dat die huwelik slegs tussen een man en een vrou moet wees as ons nie kan toon dat selfs dit suksesvol is nie?

 

Betekenis van die huwelik

‘n Huwelik is veel meer as ‘n ooreenkoms tussen twee mense; dis ‘n voorsienigheidsdaad en instelling van God. God bind ’n man en vrou op só ’n wyse aan en met mekaar dat hulle nie meer net twee persone is nie, maar in en tot ’n eenheid met mekaar verbind is. Hierdie unieke en intieme eenheid wat God skep vorm die huwelik en gesin. Die Christelike huwelik is ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou wat trou en liefde vir mekaar voor God en Sy gemeente beloof het. God het die huwelik ontwerp, en Sy doel met die huwelik is dat die man en vrou eenheid ervaar in ‘n verhouding waar hulle saamgebind word deur ‘n heilige belofte (Mal. 2:14). ‘n Heilige belofte of gelofte is ‘n ooreenkoms wat een persoon aan ‘n ander maak voor God. Die huwelik is ‘n gelofte deurdat die man en vrou daarin tree voor God as getuie. Omdat dit God is wat die paartjie saamvoeg, beloof die man en vrou liefde aan mekaar “tot die dood ons skei”. Daarom word die huweliksverhouding nie deur selfbelang of ongebondenheid gereguleer nie, maar wel deur die gesamentlike toewyding van die man en vrou om hulle huwelik volgens God se ontwerp en soewereine plan te volvoer. Die gevolge van die verbreking van so ‘n belofte wat ons voor God gemaak het is ernstig: “As jy aan God ‘n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie” (Pre. 5:3-4). As ons hierdie woorde verstaan, sal ons ook begryp dat ons nie maklik uit hierdie verbintenis kan kom nie.

  • Die Bybel maak dit duidelik dat die huwelik en die gesin nie menslike ontwerpe is wat slegs op tydelike konsensus en tradisies berus nie. En omdat die huwelik en gesin deur God ingestel is, is die mens nie vry om daaroor te onderhandel of om dit te herdefinieer nie. Ons moet dit behou en respekteer, sien Jesus se woorde in Matteus 19:6; “Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie”.
  • Die huwelik word gebruik om die verhouding tussen God en Israel in die Ou Testament te beskryf (sien bv. Eseg. 16:8-14; Jes. 54:5). ‘n Ontleding van die huwelik verdiep die begrip van God se liefde vir Sy mense, terwyl begrip van die huwelik weer verryk word deur ‘n beskouing van God se verbondsliefde vir Sy mense. God vergelyk ook dikwels opstandige Israel met ‘n ontugtige vrou (bv. Jer. 3:6-9) en gebruik ontrouheid as beeld van die mees afskuwelike sonde.
  • Die huwelik word as beeld van die verhouding tussen Christus en Sy gemeente gebruik (Opb. 19:7-9). Verder word Christus se liefde as model vir die huwelik gebruik. (Efs. 5:22-33).
  • Hebreërs 13:4 beskryf die eerbare staat van die huwelik: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom”. Hier kan duidelik gesien word wat as suiwer en eerbaar beskou word – die huwelik, en wat as seksueel immoreel beskou word – alles buite die huwelik. Saamwoon en ander seksuele vryhede val in die laaste kategorie en is daarom sonde. Diegene wat hulle hieraan skuldig maak staan onder die gramskap en oordeel van God.

 

Ons sien dus dat die huwelik permanent, heilig, intiem en eksklusief is. Die respektering van God se ontwerp vir die huwelik en gesin is sentraal tot die florering van die samelewing. Prakties gesien, met minder seksuele immoralitiet sou daar ook minder aborsies, minder ongewenste swangerskappe en minder gevalle wees waar kinders sonder een ouer moet grootword. Die gesin is die basiese eenheid van elke samelewing en as dit nie beskerm en gerespekteer word nie, kan ‘n samelewing nie gebalanseerd oorleef nie.

 

Die probleem van seksuele immoraliteit as volhardende sonde

Voordat ons na die probleem van volhardende sonde en seksuele immoraliteit as ‘n voorbeeld daarvan kyk, moet ons eers gaan kyk hoe die Bybel ‘n ware Christen beskryf. ‘n Ware Christen volhard nie in sonde nie. Alhoewel ons nie nou al volmaaktheid kan bereik nie, beteken dit nie ons kan maar voortgaan met sondig nie. Paulus sê in Romeine 6:1-2: “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortleef? ‘n Christen is ‘n persoon wat ten volle in Jesus Christus as enigste Saligmaker vertrou en daarom met die Heilige Gees vervul is (Joh. 3:16; Hand. 16:31; Efs. 2:8-9). Die Heilige Gees oortuig Christene van sonde, daarom sal elke ware Christen erken dat hy of sy die oorweldigende oortuiging van die Heilige Gees voel wanneer hy of sy gesondig het. ‘n Christen is nie ‘n “verbeterde” weergawe van die oue nie, maar ‘n totaal nuwe persoon (2 Kor. 5:17). Hierdie nuwe mens wat Christus skep is nie een wat bly stap in die sinlikheid van die vlees nie. Ware geloof in Christus sal altyd lei tot ‘n veranderde lewe. Hiermee saam is ‘n strewe na heiligheid; wanneer ons gered is, is ons van ons heidense begeertes en praktyke gered en geroepe om ‘n lewe van heiligheid te leef. Ons is nie perfek nie, maar “apart” van die wêreld en ons moet hierdie realiteit in ons daaglikse lewens uitleef. In 1 Petrus 1:13-16 skryf Petrus aan gelowiges: Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe; “Wees heilig, want Ek is heilig”. Saligmaking word verkry deur genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen; ons verkry dit nie deur onsself of deur werke nie. Die kern van hierdie lering vind ons in Efesiërs. 2:8-9. Maar vers 10 leer van die resultate van daardie saligheid: “Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het”. Voortvloeiend uit die verkryging van saligheid deur geloof, is voorafbestemde goeie werke en geestelike groei wat bewys lewer van ons bekering. As daar geen bewys hiervan is nie, kan ons met rede twyfel of saligmaking ooit plaasgevind het. “Geloof alleen” beteken nie dat sommige gelowiges vir Christus in dissipelskap volg terwyl ander in ‘n sinlike leefstyl bly nie. Nee, God se Woord onderskei slegs twee tipes mense: Christene en nie-Christene; gelowiges en ongelowiges; diegene wat hulself onderwerp aan die heerskappy van Christus en diegene wat dit nie doen nie (sien Joh. 3:36; Rom. 6:17-18; 2 Kor. 5:17; Gal. 5:18-24, Efs. 2:1-5;1 Joh.1:5-7; 2:3-4). Diegene wat volhard om in die vlees te wandel is nie ware gelowiges nie (Rom. 8:5-8). Daarom roep Paulus ons ook om onsself te ondersoek of ons in die geloof leef (2 Kor. 13:5). Die sinlike Christen sal gou met selfondersoek besef dat hy/sy nie in die geloof wandel nie. Ons moet die ware betekenis van geloof in Christus besef. Met ware saligmaking kom egte sondebelydenis en omkering. Alhoewel saligheid gratis is, kos dit ons alles. Ons moet die ou self afsterf en in ‘n nuwe lewe in Christus verander. Dissipelskap en gehoorsaamheid as reaksie op ware saligmaking sal net plaasvind met ware geloof in Christus.

  • Seksuele immoraliteit is een van die maniere waarop mense aan die vlees gehoor gee eerder as om in die Gees te wandel (Gal. 5:16). Ons sien in 1 Tes. 4:3-5 die noodsaaklikheid daarvan om ons liggame te beheer. Wanneer ons ingee tot seksuele immoraliteit, toon ons dat die Heilige Gees nie werksaam is in ons lewens nie, want ons toon nie selfbeheer nie - een van die vrugte van die Gees. Alle gelowiges toon die vrug van die Gees (Gal. 5:22-23) in ‘n mindere of meerdere mate afhangende van of ons die Gees toelaat om ons te beheer.
  • Paulus roep die gelowiges in Kolossense op tot ‘n nuwe lewe waarin o.a onreinheid en onsedelikheid afgelê word: “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is” (3 Kol. 5,6).
  • In Matteus 5:8 sê Jesus dat diegene wat “rein van hart is” God sal sien. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe (1 Tes. 5:7). Onbelyde, volhardende seksuele sonde besoedel die hart en maak dit onmoontlik om die krag van die Heilige Gees in jou lewe te ervaar.
  • God het seksualiteit geskep en Hy het die grense daarvoor gestel. Verbreking van hierdie grense is ‘n ernstige saak. Die grense begin in Genesis 2:24 met die woorde “een vlees”. God het seksuele eenheid so ontwerp dat nie net liggame nie, maar ook harte en lewens betrokke is. Dit is ‘n fisieke, emosionele en geestelike eenheid. Liggaamlike eenheid is ontwerp om ‘n leeftydse eenheid tussen man en vrou te vorm. Jesus het gesê: “Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie” (Matt. 19:6; Mark. 10:9). Hierdie eenheid bring ook nuwe lewe voort (Gen. 4:25) en God seën voortplanting binne die huwelik (Gen. 1:28; 9:27)
  • ‘n Belangrike rede hoekom onsedelikheid ‘n groot kwessie is, is omdat die Bybel die huwelik as ‘n metafoor van die verbondsverhouding tussen Jesus en Sy “bruid; diegene wat Hy met Sy bloed gekoop het, beskryf (Opb. 19:7; 2 Kor. 11:2). Seksuele immoraliteit is nie deel van hierdie beeld nie.
  • Bybelse verbod op seksuele immoraliteit gaan dikwels gepaard met waarskuwings van “onreinheid” (bv. Rom. 1:24; Efs. 4:19). Die Griekse woord is “akatharsia”, wat beteken: “besoedel, vuil, seremonieël nie-geskik”. Dit het ‘n konnotasie van aksies wat ‘n persoon nie geskik maak om in die teenwoordigheid van God te kom nie. As ons, as kinders van God, kies om in ons sonde te bly, kies ons die gevolg wat met daardie keuse saamgaan. Die gevolg is ‘n gebroke verhouding met God. Diegene wat volhou met sonde moet hulle ware verhouding met God herondersoek (2 Kor. 13:5). Die Bybel is duidelik oor die feit dat diegene wat God ken, nie aanhou met ‘n leefstyl van onbekeerde sonde nie (1 Joh. 2:3-6: 3:7-10). Die Bybel verklaar onomwonde in Spreuke 28:9: “As iemand hom doof hou vir die wet van die Here sal die Here ‘n afsku hê van so ‘n man se gebed”. Paulus gaan so ver om te beveel dat die gemeente moet afsny van hardkoppige sondaars in hulle midde (1 Kor. 5:11-13).
  • Ons bluf onsself indien ons dink dat ons in hardkoppigheid die sonde kan kies en God nie sal omgee nie. In 1 Joh. 2:3-4 sien ons die weerlegging van hierdie aanname: “As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. Iemand wat sê: “Ek ken Hom” maar nie Sy gebooie gehoorsaam nie, is ‘n leuenaar en die waarheid is nie in hom nie.” En in Romeine 8:6-7 lees ons dat iemand wat deur die sondige natuur beheers word, in vyandskap met God staan en nie die wil van God kan doen nie. Die gevolge van so ‘n lewe loop uit op die dood, terwyl iemand wat deur die Gees beheer word, lewe en vrede vind.
  • God het nie vir ons ‘n Gees van vrees geskenk nie, maar ‘n Gees wat ons met krag, liefde en selfbeheersing vul. (2 Tim. 1:7). ‘n Gelowige wat in volhardende sonde leef mag dalk bedenkinge hê oor sy of haar saligheid. Alhoewel volmaakte liefde “vrees verdryf, want vrees verwag straf” is dit ook waar dat “wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie” (1 Joh 4:18). Persone wat hulself as Christene beskou en nie sulke lewens leef nie, het goeie rede om hulle saligheid te betwyfel (1 Joh 3); as sulke persone dit wat hulle voel of glo bokant God se Woord stel, toon hulle geen bewys van bekering nie en is hulle saligheid in gedrang. Persone wat geen behoefte toon om God se wil te doen en nie hulle eie behoeftes ondergeskik maak aan wat God sê nie, soek “eers hulle eie belang en nie die koninkryk van God nie” (Matt. 6:33). God help hulle om te sien wat die uiteinde van so ‘n pad is (Opb. 20:11-15). God weerstaan die hoogmoediges, maar gee genade aan die nederiges (Jak. 4:6). Dit is tog beter om die vrede van God te hê instede van Sy toorn.

 

Saamwoon

Voorhuwelikse seks word herhaaldelik verdoem in die Skrif, tesame met alle ander vorme van seksuele immoraliteit (Hand. 15:20; Rom. 1:29, 1 Kor. 5; 6:13; ook in 2 Korintiërs, en Galasiërs, Efesiërs, Kolossense, Tessalonisense, en die boek van Judas. Die Bybel voorstaan algehele onthouding buite (en voor) die huwelik. Saamwoon is in stryd met die wil van God en aangesien die kerk gehoorsaam aan God moet wees, kan ons as kerk dit nie goedkeur nie. Ongetroude gemeentelede wat kinders uit so ‘n verhouding het plaas hulself dan ook buite die tradisie van die Christelike gedragspatroon d.i. kinders moet gebore en grootgemaak word binne en nie buite die huwelik nie. Daar kan tereg gevra word hoekom twee mense wat hulself as Christene beskou eerder wil saamwoon en nie kans sien om hulself voor God te verbind nie. Is dit verder regverdig om kinders in ‘n verhouding groot te maak waar die man en vrou onseker is oor hulle getrouheid aan mekaar? As Jesus sê dat die enigste toelaatbare rede vir egskeiding onsedelikheid of owerspel is, hoe kan ons dan onsedelikheid voor die huwelik goedpraat as ons juis daarvan moet vlug (1 Kor. 6:18-19)? Daar is dalk jong paartjies wat voel hulle het mekaar lief en is getrou aan mekaar, maar wil nie wag om te trou nie. Hierdie stap word deur hulle (en dikwels ook deur medelidmate in die kerk) gerasionaliseer met die idee dat hulle wel sal trou en dat dit nie sonde is om nou al huweliksvoorregte te geniet nie. Dit verwyder egter die spesiale aard van die verhouding van die behoorlike fondasie daarvan, en erodeer die idee dat daar wel ‘n fondasie is. As ons hierdie gedrag aanvaar, is dit nie lank voordat ons enige buitehuwelikse immoraliteit as aanvaarbaar sal beskou nie.

 

Egskeiding

Alhoewel egskeiding nie noodwendig saamgaan met seksuele immoraliteit nie, bly egskeiding ‘n groot faktor in die verswakking van die konsep van die huwelik. Gelowiges is ook skuldig aan die praktyk van “geen-fout” egskeiding. Ons beskou die huwelik as ‘n kommoditeit; iets wat weggesmyt kan word met die geringste teken van opdraande. Die goddelike standaard vir die huwelik is lewenslange getrouheid aan mekaar. Alhoewel egskeiding in die Ou Testament in sommmige gevalle toegelaat is, maak Jesus dit duidelik dat dit nie God se ideaal was nie. Jesus bevestig dit ook met Sy woord in Matteus 19:4-6: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê: Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle sal een wees.” Jesus volg Sy woorde op met die volgende klaarblyklike uitsondering, naamlik seksuele immoraliteit, dus ontrouheid, as ‘n moontlike rede vir egskeiding. Selfs in sulke gevalle is egskeiding slegs toelaatbaar en word dit nie deur Jesus voorgestaan of selfs verkies nie. In ons hedendaagse samelewing met losse sedes kan hierdie voorsiening maklik as rede gebruik word vir egskeiding, selfs onder Christene. Maar kyk wat sê Paulus in 1 Korinthiërs 6:15, 16: “Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou ‘n deel van Christus neem en dit ‘n deel van ‘n ontugtige vrou maak? Beslis nie! Of weet julle nie dat iemand wat met ‘n ontugtige vrou omgang het, liggamlik een met haar is nie? God sê immers: Die twee sal een word.” Dit is veral insiggewend dat Jesus tydens ‘n ander geleentheid nie ontrouheid as verskoning vir egskeiding gee nie: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met ‘n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”(Luk. 16:18). Hierdie beginsel geld ook vir die vrou: “En as ’n vrou van haar man skei en met ‘n ander een trou, pleeg sy egbreuk”. Aangesien God Homself nie sal weerspreek nie, kan ons tot die gevolgtrekking kom dat dit oor die algemeen beter is om oortredinge van ontrouheid teenoor mekaar te vergewe, natuurlik met skuldbelydenis en dan getrouheid daarna, eerder as om ‘n huwelik wat andersins goed sou wees te laat verbrokkel. Hier sien ons dan ook dat hertrou na egskeiding as owerspel, dus seksuele immoraliteit, beskou word. Daar is wel nog ‘n moontlike Bybelse rede vir regmatige egskeiding; dit word genoem die “Pauliniese vrywaring”. Dit verwys na waar ‘n ongelowige van ‘n gelowige wil skei. In so ‘n geval word die gelowige “vrygestel” (1 Kor 7:15). In totaal gesien skend beide skei en hertrou dus die goddelike beginsel van permanente eenheid en getrouheid in die huwelik. Maar alles is nie verlore nie: daar is die belofte van vergifnis: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh 1:9). God vergewe sondes, insluitende selfs die sonde van skei sonder Bybelse rede, op voorwaarde dat ware skuldbelydenis plaasvind en dat daar nou ‘n opregte geloof en ‘n wil om God te dien by die betrokkenes bestaan.

 

Ons sien dus dat seksuele immoraliteit meer kompleks is en met verreikender, ernstiger gevolge as wat ons dalk sou dink. ‘n Begeerte na heiligheid is ‘n kenmerk van diegene wat God ken. Om God te ken beteken om Hom lief te hê (Matt. 22:37-38) en om Sy wil te doen (Joh. 14:15). Onbekeerde, volhardende sonde staan in die pad hiervan, dus moet ‘n ware kind van God die sonde bely, bekeer en die verhouding met God herstel. Voordat ons die probleem van seksuele immoraliteit in ons midde kan aanspreek, moet ons tot die besef kom dat ons as gelowiges verantwoordelik is vir mekaar en dat ons mekaar regverdig kan - en moet - beoordeel.

 

Ons is verantwoordelik vir mekaar

Medegelowiges is verantwoordelik vir mekaar. Ons moet broederlike liefde teenoor mekaar met nederigheid en sagmoedigheid betoon. Ons moet ons sonde aan mekaar bely en vir mekaar bid, want “die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking” (Jak. 5:16). Ons is mekaar se opppassers. Die vraag is of ons wel mekaar oppas, of ons vir mekaar uitkyk, of ons besorgd is oor mekaar se geestelike welstand. Ons kan nie hierin suksesvol wees as ons lafhartig of sku is nie. Ook nie as ons vol van eiebelang is nie. Ons moet selfs bereid wees om ‘n hegte vriendskap op prys te stel ter wille van ware getuienis. So het Paulus dan vir Petrus gekonfronteer en gekeer dat Petrus ernstige skade aan sy eie getuienis en aan die saak van Christus doen. As van ons medegelowiges afdwaal, en daardeur sy of haar geloofwaardigheid as getroue navolger van Christus vernietig, moet ons net stilsit sonder beswaar; sonder om enige sin van verantwoordelikheid te voel? Natuurlik nie: ons is mekaar se oppassers.

  • Galasiërs 6: 1 gee vir ons die opdrag: “Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op, jy kan self ook in die versoeking kom.” Dit beteken dat wanneer diegene wat in die Gees in geloof en gehoorsaamheid wandel ‘n Christen sien wat verkeerd handel, ons nie net toekyk nie, maar optree.
  • Ons lees in Hebreërs 3:12 en 13: “Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie”.
  • Ons word deurlopend in die Nuwe Testament aangemoedig om mekaar lief te hê. Soms moet liefde teregwys, waarsku en selfs bestraf (2 Tes. 3:13-15; Matt 18:15 - 17). Sulke vermaning moet egter altyd in die gees van liefde met die doel van bekering en versoening plaasvind. Maar dit moet wel plaasvind. En kyk wat sê Jakobus: “My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.” (Jak. 5:19, 20).

 

Beoordeling van sonde: ware liefde waarsku

Deesdae word dit as erger beskou om iemand wat openlik sondig te beoordeel as die sonde self. Christene is deeglik bewus van Jesus se woorde: “oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” Hierdie skrifgedeelte (Matt. 7:1-5) word dikwels uit konteks gebruik vir die verkeerdelike regverdiging om nooit standpunt in te neem oor iets wat beoordeling vra nie. Die gedeelte verwys egter eerder na skynheilige, selfregverdigende, onregverdige tipes oordeel, veral waar diegene wat oordeel self skuldig is aan dieselfde sonde as diegene wat gekonfronteer word. Jesus roep ons wel om regverdig te oordeel. Die sesde vers van die gedeelte dui aan dat daar ‘n korrekte tipe oordeel is wat die gelowige kan uitvoer. Die varke en honde waarna hier verwys word, verteenwoordig diegene wat die evangelie sal bespot, verwerp of laster as dit aan hulle gegee word. Ons kan nie die evangelie aan diesulkes gee wat geen ander doel voor oë het as om dit te vertrap nie. (Dit beteken nie dat ons nie die evangelie moet verkondig nie, maar die instruksie hier kan in dieselfde lig gesien word as wat Jesus aan sy apostels in Matteus 10:14 gee). Ons identifiseer sulke mense deur onderskeidingsvermoë, gegee in ‘n mindere tot meerdere mate aan alle Christene (1 Kor. 2:15,16). Ons kan diegene wat die evangelie sal aanvaar, of minstens sal respekteer, uitken van diegene wat dit sal vertrap. Ons moet die verskil ken tussen beoordeling van reg en verkeerd en “oordeel fel oor”. Ons oordeel nie mense as ons gedrag of sieninge wat duidelik onskriftuurlik is beoordeel nie. So, Jesus sê nie dat ons glad nie mag oordeel nie, maar Hy roep ons op om regverdig te oordeel, in Joh. 7:24 sê Hy: “Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig”. Verder sê Paulus aan ons om ons medegelowiges binne die gemeente te beoordeel (1 Kor. 5:9-13).

  • Die skriftuurlike oproep om nie op sekere wyses te oordeel nie word duidelik deur Jesus, Paulus en Jakobus uitgespel: ons mag nie skynheilig, uiterlik of valslik beoordeel nie en ons mag nie verdoem nie (Matt. 7:1-5); ons mag nie mekaar veroordeel as ons opvattings verskil nie en ons mag nie God se wil vir ‘n ander gelowige veroordeel nie (Rom. 14:1-13), verder mag ons nie kwaadpraat van mekaar nie (Jak. 4:11-12). Ook kan ons nie motiewe oordeel nie: net God ken mense se harte.
  • Ons moet volgens die Skrif morele beoordeling toepas; daarsonder kan geen samelewing funksioneer nie. Was Jakobus dan veroordelend as hy sy lesers “ontroues” noem en dat hulle “in vyandskap met God” staan? (Jak. 4:4). Of Paulus, omdat hy regdeur sy briewe aan sy lesers woorde van berisping en bestraffing het? In die woorde van Francis Schaeffer: Truth always carries with it confrontation. Truth demands confrontation; loving confrontation nevertheless. If our reflex action is always accommodation regardless of the centrality of the truth involved, there is something wrong."
  • Ware liefde waarsku. Indien ons werklik vir ons medegelowiges omgee, sal ons hulle van die afgrond af wegtrek en nie tot daarin help nie. Liefde wat nie waarsku nie is geen liefde nie. Die leraar wat nie die dwalende kudde teen die gevare van geestelike kompromie waarsku nie, het hulle nie lief nie. Gemeentelede wat afvalliges nie aanspreek nie, of selfs hulle sonde probeer goedpraat, het mekaar nie werklik lief nie.
  • God se woord is ons maatstaf, ons mag nie die evangelie afwater om dit sodoende meer verteerbaar vir sondaars of afvalliges te wil maak nie. Ons kan nie saligheid sonder skuldbelydenis en die wegkeer van sonde wil preek nie. Ons kan nie vooraf self besluit wat reg is en dan die Woord van God daarmee wil verweef nie. En ons kan nie God se genade misbruik nie: die kosbare bloed van Jesus maak ons vry van die sondelas, nie vry om te sondig nie.
  • Ons moet duidelik waarsku, in geen onsekere terme nie, maar nie met selfvoldaanheid of ongevoeligheid nie. Ware liefde waarsku met lydsaamheid. Jesus het geween tydens Sy waarskuwing aan Jerusalem oor die vreeslike oordeel wat voorlê (Luk. 19:41-25). En Paulus het “met trane” vir drie jaar lank die gemeente in Efesiërs gewaarsku (Hand. 20:29-31). Dissiplinering is moeilik en pynlik. Dit is nie dat ons diegene wat volhard in sonde nie moet liefhê nie, maar dat ons Christus en Sy Kerk en Woord selfs meer moet liefhê. Ons liefde teenoor die betrokkenes moet nie die van sentimentele verdraagsaamheid wees nie, maar eerder die van regstellende liefde. In Spreuke 27:5-6 lees ons: “‘n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly. Op ‘n vriend wat jou seermaak kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene” En in Spreuke 28: 23: “Wie iemand teregwys, kry eerder agterna dank as wat ‘n vleier dit kry.”

Wil ons as ‘n klomp ja-mense bekend staan wat mekaar vertel wat ons graag wil hoor eerder as wat ons moet hoor? Wil ons soos die valse profete wees wat roep: “alles is reg” wanneer niks reg is nie (Jer. 6:14)? Laat ons mekaar eerder van rampspoed red deur mekaar te waarsku wanneer ons op die verkeerde pad is. Regverdige oordeel gebaseer op die Woord van God en Sy heilige standaarde is verlossend en bevrydend.

 

Ware Christene is nie “relevant” nie

“Relevansie” kan dikwels in die pad staan van beoordeling van sonde. Soms wil of kan ons nie die sonde raaksien nie omdat dit al so deel van die samelewing is. Maar ons is hier op aarde geplaas om God se wil te doen, om Hom te ken en te dien. Ons leef nie meer vir onsself nie, maar vir Hom wat aan die kruis gesterf het en opgestaan het. Ons is teen ‘n prys gekoop, dus behoort ons aan God, ons is sy verbondsdienaars en sy geliefde seuns en dogters. Ons plesier God as ons in Hom glo en heilige lewens leef – nie wanneer ons ja sê vir vleeslike begeertes nie. Ons word nie geroep om mense se ore te streel en om hulle goed te laat voel oor hulself nie. Ons is geroepe om die waarheid in liefde te spreek en om die regte ding te doen eerder as om die maklike uitweg te kies. Ware volgelinge van Christus maak nie toegewings vir die sonde nie. In ons strewe na relevansie is ons ook dikwels bang ons antagoniseer of ons dryf lidmate weg as ons die sonde aanspreek. Maar relevansie lei maklik tot toegewing, en as ons die waarheid van die evangelie afwater om dit sodoende meer verteerbaar te maak, help ons beslis nie mense nie. Dan help ons hulle eerder oor die afgrond en troos onsself daaraan dat hulle darem kerk toe kom. Dit is goed om mense in die kerk te kry, maar dis nog beter om hulle te lei op die pad na bekering en saligheid. Geen van ons gemeentes mag gewild wees weens die persepsie dat die spesifieke gemeente toegewend teenoor die sonde staan nie. Tozer het reeds jare terug die volgende beweer: Religion today is not transforming people; rather it is being transformed by the people. It is not raising the moral level of society; it is descending to society's own level, and congratulating itself that it has scored a victory because society is smilingly accepting its surrender." Christene deur die eeue heen was nie relevant nie, hulle was gehoorsaam aan God en Sy Woord, anders sou hulle nie vervolg gewees het nie. Jesus het nie gesê: “wees relevant” nie, maar Hy het duidelik gewaarsku dat gelowiges dit nie maklik sal hê in die wêreld nie (Matt 10:24-25; Joh. 15:18-20).

  • Saamwoon en “geen-fout” egskeiding is lankal normatief in die samelewing. Ook in ons kerkkultuur het dit so algemeen geword soos koeksisters en melktert. Ons kan nie die veranderende samelewing en die wispelturige opinies van mense gebruik as ons GPS vir die kerkpad nie. Ons mag nie soos die wêreld raak nie, ons moet juis die wêreld verander. Ons kan nie ons lig verdof om relevant te wil wees in ‘n immorele samelewing nie. Eerder moet ons daarna streef om Jesus in gedagte, word en daad na te volg. Dit sluit in Sy lewegewende standaarde van heiligheid en reinheid. Dan sal ons ‘n lig wees vir die donker wêreld.
  • Ons kan onsself nie uitverkoop met ‘n kompromitterende houding nie. Dink maar hoe ‘n mens voel oor mense wat uitverkoop het; politieke of geestelike leiers; mense van die Bybel soos Judas Iskariot: ons het nie respek vir sulke mense nie. Daarom moet ons sorg dat ons respek waardig is. As ware gelowiges in Christus moet ons God se Woord aanvaar as absolute waarheid (2 Tim. 3:16) en moet ons ten volle daaraan gehoorsaam wees (Joh. 14:15; 1 Joh. 5:3; 2 Joh. 1:6). Ons moet besef dat God se Woord vir niks of niemand gekompromeer kan word nie (Deut. 17:11; Spr. 24:7: Opb. 3:15)

 

Die praktyk

Ons is dalk bewus van dinge wat verkeerd is in ons kerk, maar weet nie hoe om dit aan te spreek nie. Geen Christen wil tog liefdeloos of veroordelend lyk nie. Jesus het die opdrag gegee dat ons mekaar moet liefhê. En die grootste moontlike uitdrukking van liefde teenoor iemand is juis om hom of haar God se waarheid te vertel, want God se manier is die beste. Dit is goed om eers oor die saak te bid vir leiding. Daarby moet ons ons motiewe ondersoek. Ons motief en oortuiging moet altyd wees om ons medegelowige wat fouteer tot belydenis en versoening te bring. Ons houding is belangrik; Efesiërs 4:32 sê: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” Ons moet ‘n houding van nederigheid en ware besorgdheid teenoor die betrokkenes hê. Met so ‘n benadering sal ons makliker die “waarheid in liefde spreek” (Efs. 4:15). In alle gevalle wanneer ons die sonde tussen ons aanspreek, moet dit met ware liefde gedoen word. Maar ons mag ook nie kompromiëe tref nie. Ons moet ophou om verskonings te soek soos “hulle is tog lief vir mekaar” om die sonde van saamwoon of egbreuk te probeer regverdig. Van wanneer af word die sonde deur die liefde geregverdig? Twee gays in ‘n vaste verhouding is ook lief vir mekaar, maar maak dit dan hulle sonde van homoseksualiteit beoefen reg? Die Bybel tref nie onderskeid tussen “liefdevolle” en “liefdelose” seksuele verhoudings nie. Die enigste Bybelse onderskeid hier is tussen getroudes en ongetroudes. Seks in die huwelik is geseën, buitehuwelikse seks is sonde.

  • Met saamwoon en ander seksuele immoraliteit is dit belangrik om die probleem ten volle aan te spreek, sodat die betrokkenes besef dat hulle gedrag hulle in konflik bring met God en met die kerk. Die betrokke lidmate moet pastoraal gelei word tot die besef dat bekering van hulle volhardende sonde nodig is, tot skulderkenning, en tot ‘n wil om God te gehoorsaam wat uiteindelik uitloop op verandering en ‘n nuwe lewe.
  • ‘n Ongetroude paartjie behoort alle aktiwiteit te vermy wat hulle in versoeking tot seks mag stel, of wat die skyn van immoraliteit weergee. Gelowige ouers laat hulle jong dogter dalk toe om “oor te slaap by vriende” saam met haar kêrel. Of ‘n gelowige saamwoonpaartjie redeneer dat hulle nie slaapkamers deel nie. ‘n Paartjie woon dalk saam sonder seks, maar hulle kan versoek word weens so ‘n noue verhouding deur begeerte in hulle harte vir mekaar hê. So reduseer hulle mekaar tot blote objekte van hulle begeerte. 1 Korintiërs 7:9 sê van ongetroudes: “Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.” Verder word die Christengemeente beveel om van alle voorkoms van sonde weg te bly (1 Tes. 5:22; die Griekse woord wat hiervoor gebruik word kan beide “voorkoms” en “alle vorme” beteken), aangesien hulle die getuienis vir die kerk en die saak van Christus kan benadeel. Om van die voorkoms van sonde of van alle vorme van sondigheid af weg te bly beteken om ver weg te bly van dit wat sleg is. Christene is deur God afgesonder (2 Kor. 6:17). Ons hoef nie wetties te raak oor wat andere se persepsies oor sleg mag wees nie. Maar ons moet wel getrou bly aan ons getuienis aan die wêreld (“lig en sout vir die wêreld” Matt. 5:13-16) en aan ons plig om medegelowiges te ondersteun en nie te laat struikel nie (1 Kor. 8:9). Ons moet bewus wees van die menslike natuur wat neig na sonde doen. Eerder as om dit wat dalk sonde is te tart, bly ons ver weg daarvandaan.
  • Regverdiging van jou leefstyl omdat dit “reg voel” maak dat jy jouself blootstel vir die dissiplinerende hand van God. Hierdie is ‘n sonde van aanname naamlik dat God nie sal omgee nie. Maar God gee wel om en geen sonde is sonder gevolge nie. As jy jou gevoelens volg bokant dit wat God sê kom jou saligheid in gedrang (lees 1 Joh 3).
  • Gemeentelede wat dalk egskeiding oorweeg, word aangemoedig om bewustelik te kies om in die huwelik te bly. Die wete dat daar nie ‘n “nooduitgang” uit hierdie heilige band is nie, is die sleutel tot transformasie in die huwelik, want dan is getroudes toegewyd om God se plan vir die huwelik te volg. Vra God om vergifnis vir enige oortredinge teenoor mekaar en neem weer die besluit om getrou aan mekaar te bly. Bid dan ook vir God se seën en leiding in julle huwelik.
  • Getroudes in die gemeente behoort aan die res ‘n voorbeeld te wees van wat ‘n Godgeseënde huwelik is. Die Bybelse voorbeeld vir die huwelik word goed uiteengesit in die bespreking van die huweliks- en gesinsrolle in Efesieërs 5:21-33. Leef die beginsel “wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” (vers 21) uit. Om ‘n Christen in die gemeente te wees, beteken in die eerste plek om dit in jou huwelik te wees.
  • Daar hang ‘n vraagteken oor die bediening van sakramente aan diegene wat verkies om te volhard in die sonde en wat dus in openlike rebellie teen God is. Die nagmaal en doop is nie maniere tot genade nie en dit kan nie saligheid gee nie. Genade is ‘n gawe en kan nie verdien word nie. Die sakramente is eerder sigbare tekens van genade, maar hoewel slegs ritueel van aard, is dit nie betekenisloos nie. Genade en vergewing van sondes kan slegs ten volle begryp word indien daar ‘n besef is dat daar wel sonde is wat bely moet word en vergewe kan word. Die doop van kinders van gelowige ouers simboliseer die feit dat die kinders in die gemeente gebring word as deel van ‘n gesin waar die ouers beoog om die kinders in gehoorsaamheid tot God en Sy Woord groot te maak. Die beloftes wat doopouers moet aflê behels basies dat hulle in ooreenstemming met Christelike oortuigings en praktyke leef. Die doop impliseer verder ‘n wegkeer van sonde (Rom. 6:1-5). Saamwoon as ‘n volhardende sonde verhinder sulke ouers om hierdie beloftes af te lê. Dit is eerder nou die tyd dat die paartjie vir God en hulle kind(ers) bokant hulle eie gerief kies. Die waarheid moet eerlik en reguit, maar ook met respek en deernis aan hulle oorgedra word. Indien die paartjie weier om aan God gehoorsaam te wees, behoort die kerk met rede bedenkinge te hê om die doop te bedien. Totdat die paartjie bekeer, toon hulle dat hulle verkies om buite die kerkgemeenskap te leef, en die seën van die gemeenskap van die heiliges kan dus nie op hulle rus nie. Indien ons die doop van kinders van ongetroude paartjies toelaat, bevestig ons daarmee hulle leefsituasie as aanvaarbaar en in lyn met ‘n Christenlewe – en dis dan ook wat hulle kinders sal glo soos hulle grootword. Die gevaar bestaan ook dat die paartjie nie hulle kinders gaan grootmaak om die Here te volg nie, maar wel die kinders grootmaak met die idee dat hulle “gedoop” is, en daarom “goeie” Christene is – dus net nog deel van ‘n generasie wat dink hulle is gered vir geen goeie rede nie. Wat die nagmaal betref: nagmaalgebruik impliseer gemeensaamheid in Christus, voortsetting in die Christelike geloof en eenheid met die Christelike kerk. Omdat ons egter nooit tydens ons aardse bestaan volmaak sal wees nie, is dit juis ons worsteling teen die sonde wat die erkentenis bring dat ons op Christus en Sy genade moet vertrou. Nagmaal regverdig wel nie die sonde nie. Ons moet weet wat die nagmaal beteken en dit vir daardie rede neem. Ons moet onsself vooraf afvra of ons in die geloof wandel en in ‘n lewende verhouding met God verkeer; of ons die Heilige Gees toelaat om Sy saligmakende werk in ons lewens te doen. Dan is die nagmaal ‘n sobere viering van Christus en Sy kerk. Om nagmaal onverskillig te neem is om die ware betekenis van die brood en beker te misken en die groot prys wat ons Verlosser vir ons sondes betaal het te vergeet. Om nagmaalgebruik ernstig op te neem is om die kruis van Christus ernstig op te neem; om vir God ernstig op te neem. Hierdie sakrament moet ons ook daaraan herinner dat dieselfde Jesus wat vir ons sondes betaal het, sal terugkom om oor die lewendes en dooies te oordeel.

 

Ouderlinge moet toesig hou

Ampsdraers in die gemeente staan in diens van die Here, nie van mense nie. In hulle werksaamheid moet hulle dus getrou aan die Here bly. Uit die aard van hulle pligte is ouderlinge dikwels die eerstes in die gemeente wat bewus raak van faktore in die gemeente wat die huwelik ondermyn. Dit is dan ook hulle plig om hier opsig toe te pas volgens Bybelse voorskrifte. “Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ook nie deur baas te speel oor die wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees” (1 Pet. 5:2)..

  • Een van die hoofpligte van ouderlinge is toesig oor die gemeente. Hierdie toesig impliseer dat die ouderlinge die gemeente in teologiese waarheid lei. Die leraar is wel verantwoordelik vir hoofonderrig, maar die ouderlinge moet ook sorg dat die leraar akkuraat uit die Woord van God preek (sien Hand. 15:1-29). Dit impliseer ‘n redelike mate van geestelike volwassenheid wat by hierdie ampsdraers teenwoordig moet wees. Vir ampspligte is nie net ‘n goeie kennis van die Woord nodig nie, maar ook korrekte interpretasie daarvan. Ouderlinge moet in staat wees om korrekte doktrine te onderrig en dwaalbegrippe en onjuistheid te weerlê (Tit. 1:9).
  • Ouderlinge neem besluite. Hierdie besluite kan die heil van die gemeente raak. Ouderlinge moet dus die regte besluite neem d.i. hulle moet die Woord van God as meetsnoer gebruik, en nie besluite neem volgens persoonlike gevoel of opinie nie.
  • Ouderlinge is die leerder- en voorbidderleiers in die gemeente. Dit is ‘n eer en ‘n groot verantwoordelikheid wat nie ligtelik opgeneem kan word nie, want ons weet dat die leermeesters “strenger as ander beoordeel sal word” (Jak. 3:1).
  • Paulus se finale voorskrifte aan Timoteus is vandag nog meer geldig as ooit: “verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaar maak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.” (2 Tim. 4:2,3).

 

Die regte koers

Die kerk is ‘n gemeenskap van vergeefde sondaars wat deur God se genade ‘n lewe van heiligheid nastreef. Ons mag nooit dink dat ons beter is as ‘n medegelowige wat in die valstrik van die sonde vasgevang is nie. Ons moet eerder daaroor rou (1 Kor. 5:2). Maar as ons nie diegene aanspreek wat weier om van volhardende sonde af te sien nie, sal die kerk gou met die wêreld vermeng en sy funksie as lig en sout vir die wêreld verloor. Jesus waarsku dat Hy ons lamp sal verwyder (Opb 2:5). Daarom moet ons Bybelse kerkdissipline toepas teenoor lidmnate wat in die sonde volhard. Teenoor God verseker die toepassing van kerkdissipline dat Sy eer en heiligheid handhaaf word. Teenoor die kerk self help kerkdissipline om reinheid te herstel en help keer dit ander om te sondig. Teenoor die wêreld vertoon kerkdissipline God se standaarde van heiligheid en maak dit duidelik onderskeid tussen die kerk en die wêreld. Ons weet ons getuienis moet rondom Jesus gesentreer wees. Ons moet egter ook onsself onderwerp aan die oortuigende krag van die Heilige Gees en gewillig wees om die sonde waarvan Hy ons oortuig te bely. Dit was ook die boodskap van Jesus aan die gemeente van Laodisea: “Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle” (Opb. 3:19). Met ons nalaat om ooglopende sonde in die kerk aan te spreek, bestaan die gevaar dat bekering gereduseer word tot ‘n skamele verandering in sienswyse eerder as ‘n sigbare omkering; spesifiek ‘n wegkeer van die sonde en ‘n terugkeer na God. Ons moet eers ons eie huis in orde kry voordat die wêreld ons ernstig sal opneem. Waar ons skuldig is aan skynheiligheid behoort ons hierdie skuld te bely en vir God om vergifnis te vra. Ons moet volle verantwoordelikheid neem vir dit wat verkeerd is in ons midde. Die regte reaksie op dubbele standaarde is tog nie om die kerkstandaarde te verlaag of die wêreldsondes te regverdig omdat ons self skuldig is of was nie. Indien die wêreld ons van dubbele standaarde beskuldig, beteken dit tog dat die wêreld van ons as volgelinge van Jesus verwag om juis “anders” te wees. Hulle verwag van ons ‘n ander stel waardes. Ook kan ons nie nou ophou om die sonde van die wêreld aan te speek omdat ons in die kerk gesondig het nie. Nee, ons kry ons huis in orde sodat ons ‘n heilige voorbeeld aan die wêreld kan stel en mense na die Lig vir die wêreld toe kan lei. Die wêreld het lankal reeds die Godgegewe bedoeling van die huwelik opgegee. As gelowiges loop ons vandag in ‘n geestelike mynveld in ons samelewing rakende die huwelik; ‘n samelewing wat nie juis genaakbaar staan teenoor die Godgegewe huwelik nie. Slegs ‘n geestelike terugkeer na Bybelse beginsels sal die kern van die huidige samelewingskrisis rakende die huwelik en gesin kan aanspreek.

C. de Ridder