KOM ONS BID SAAM?

KOM ONS BID SAAM?

Ons moet weet dat ‘n gebed tot Goddelike ingryping nie ‘n speletjie met getalle is nie. God hoef nie te wag tot 10 of 1000 mense oor ‘n saak bid voordat Hy ingryp nie. Gebed is nie ‘n petisie wat sê dat God moet reageer indien genoeg mense dit “teken” nie. En ons gebede kan nie vir God dwing om iets te doen nie; Hy tree op wanneer dit Sy wil is, op Sy tyd. Verder, die Christengeloof is eksklusief, soos opgesom deur Jesus in Joh. 14:6. Wanneer Christene met nie-Christene saambid, selfs in Jesus se naam, bid hulle saam met diegene wie se afgode die weg na ewige verdoemenis is. Wat moet ons geloofsstandpnut dan wees wat betref gesamentlike biddae, soos byvoorbeeld die biddag vir vrede gereël deur Angus Buchan vir Saterdag 22 April 2017? Die volgende artikel gee ‘n kortlikse uiteensetting.


MISBRUIK VAN GESAMENTLIKE AANBIDDING

Gesamentlike aanbidding is een manier waarop ons die openbare erediens kan beskryf. (dit is natuurlik véél meer vir die ware gelowige)

Verder is daar niks mee verkeerd indien ´n ongelowige by wyse van erediens of ander openbare byeenkoms van gelowiges onder geklank van die Evangelie kom nie.
(Daar is ´n grondliggende verskil tussen ´n ongelowige wat in teenwoordigheid van ´n gelowige gemeente -dalk aanvanklik verkeerdelik - aanbid, waar dit geskied binne ´n opregte en God-vererende liturgie, teenoor blote gesamentlike aanbidding waar heidense invloede en motiewe meermale bepalend is.)

As Christene word ons ook opgeroep om te bid vir alle mense – selfs, dalk veral, vir ons vyande! Wie egter die Woord van God opreg lees, sal raaksien dat ons VIR ALLE MENSE moet bid, NIE SAAM MET ALLE MENSE NIE.

Die drang na demonstratiewe eenheid, onder die dekmantel van “naasteliefde”, is bloot selfsugtige eiebelang en ´n verdraaiing van die Woord. Maar wanneer dit by gesamentlike aanbiddig kom, saam met alle mense, is dit veel meer: dit is ´n berekende versoeking tot afgodery!

Die Skrif is baie duidelik dat slegs één ware God, die Skepper en Onderhouer van die ganse heelal, ons aanbidding waardig is. Wie hierdie vertrekpunt wil debatteer, is óf moedswillig naïef, of besig met berekende verleiding.

Want die enigste doel met onbegrensde gesamentlike aanbidding is om die enigste, ware God af te trek na die vlak van afgode. Dit is die kern van godsdiensgelykheid en godsdiensvryheid soos ons dit vandag ervaar. Want wie God aftrek tot ´n vlak gelyk met afgode, tas ook die sekerheid van Gods Woord en Sy beloftes aan – dit ontneem mense hul vaste anker. (juis daarom behoort ons elke dag te bid om van die Bose bewaar te word)

Die eerste onvermydelike standpunt wat die Skrif leer, is dat daar één ware godsdiens is: die verering van God Drie-enig, wat Homself in die Skrif aan ons openbaar. Enige ander godsdiens ís vals, die resultaat van die sondeval en verstrooiing van die mensdom.

Ook godsdiensvryheid word met opset vals vertolk. Menslik gesproke is elkeen sekerlik vry om die godsdiens van sy keuse te beoefen. Daardie “vryheid” is egter die resultaat van die sondeval, die sigbare uitdrukking van God se regverdige oordeel. Dit is in werklikheid gebondenheid aan die sonde! In onder andere Sy uitleg van die gelykenis van die saaier (Matthéüs 13, vers 11 e.v.) leer die Here Jesus dat dit nie vir almal beskore is om gelowig te word en gered te word nie.

Daarom word ons opgeroep tot gebed VIR alle mense – want uit opregte naasteliefde wil die gelowige dat elkeen gered sal word deur die genade wat ons te beurt geval het. Dít is waarvoor ons moet bid …

Ook hier merk ons algou ´n verdere tekortkoming van hedendaagse gesamentlike aanbidding: mense wil nie net demonstratief saam bid nie, daardie gebed wentel meermale om “verlossing” uit bepaalde aardse ellende, “uitkoms” uit nood en nog wat. Want, alhoewel die Skrif wel leer dat opregte gebed uitsonderlik kragtig is, moet ons veral twee dinge onthou: dit berus by God, in Sy alwysheid, hoe Hy ons gebed verhoor; die voorbeelde van opregte gebed, is voorbeelde van mense wie se hele lewensewandel op God gerig was.

Veral hierdie laaste aspek ontbreek in openbare, gesamentlike gebed.
Mense kom, en getrou aan die wêreld se hedendaagse vals beskouings, vra bloot in gebed wat hulle meen hulle op geregtig is. Daar is weinig tekens van berou oor die sondige lewenswyse en rebellie teen God wat ten grondslag van ons nood lê. En daar is selde dank-gebede sou uitkoms wel plaasvind.

Uiteindelik moet die Christen hom- of haarself versigtig afvra wat die ware doel van gesamentlike gebed is. Wanneer opregte gebed, verering van God alleen, ondubbelsinnig die doel van ´n gebedsgeleentheid is, is dit goed: dit geskied dan tot eer van God, tot stigting van diegene wat aanbid en tot verkondiging van God as Beskikker.

Maar sodanige byeenkoms sal maklik uitgeken word aan onder andere uitdruklike uitsprake vir die rede vir die gebeds-samekoms, vir die inherente eiesoortigheid van Christelike gebed, en veral die uitsluiting van enige vals gelykstelling van God met die vreemde afgode van ander.

Openbare, gesamentlike aanbidding moet dus altyd met groot omsigtigheid benader word. Dit sluit in omsigtigheid vir enige byeenkoms vir sogenaamde “verootmoediging”. Ons het in ons vorige rubriek juis gewys dat God Sy heiligheid só belangrik ag, dat die afvalligheid van één man ´n hele volk in ellende kan dompel!

Dit is daarom ook goed dat ons in gedagte sal hou dat die Here Jesus óók geleer het dat ons in ons binnekamer moet bid. Sy eie gebedslewe toon ook telkens dat Hy meermale alleen gaan bid het, dat Sy openbare gebede gewoonlik in die dissipel-kring was – vandag ons gemeentes.

Ons behoort ons dus te distansiëer van gesamentlike aanbidding wat nie voldoen aan die Skrif nie. Verder behoort ons ook ons eie kring te suiwer van diegene oor wie se opregtheid daar redelik getwyfel kan word. Sodanige suiwering sal juis bydrae daartoe dat die gebedsamekoms van gelowiges suoiwer en opreg bly! Want ons word onder andere opgeroep om met oordeelkundigheid die geloofsvreemde uit ons midde te weer, en hulle slegs weer toe te laat wanneer grondige berou en sigbare bekering plaasvind.

Want uiteindelik geld net één reël: SOLI DEO GLORIA
– AAN GOD ALLEEN DIE EER.

Redaksioneel uit Calvinistiese Alliansie se nuusbrief: Maart 2017