KATEGESE IS VIR ALTYD

Sommige ouers meen dat bywoning van Sondagskool, oftewel kategese, opsioneel vir die laerskooljare is. Sommiges dink dit is net nog ’n program wat ontwerp is om kinders besig te hou. Maar hier is ’n mening van ’n volwasse Christen oor sy kategese wat hierdie ouers moontlik anders oor die saak sal laat dink: “Wat ek nodig gehad het was daardie stadige herhaling, oor jare en jare, van die Woord van God. Wat ek soms onder Christene vind, is kennis van sistematiese teologie of van Bybelse morele beginsels sonder om die verhaal van die teks self te ken. Ons almal erken die geheel van die Bybel as nodig en voordelig, maar mag steeds meen dat die kennis van die teksgedeeltes meer oor Bybel-beuselagtigheid gaan as oor die Christelike lewe, en dat die teologie of lewensbeginsels van die tekste die belangrikste deel is. Ons is verkeerd as ons so dink. Ons intuïsies word tog ook deur die hele Bybel geslyp. Ons word deur God se Woord voorberei voordat ons nog weet ons het dit nodig, byvoorbeeld, wat ’n seën om reeds ’n gewete geslyp te hê deur die storie van Petrus se herstel indien jy ooit sou struikel en sou wonder of God jou sal terugneem. Wat ’n seën om die storie van Elia te kan absorbeer jare voordat jy dalk eendag sou wonder of jy alleen en verstote is”.

Deel van die grootmaak van kinders in die weg van die Here sal vir seker insluit om hulle na plekke te neem waar hulle sodanig kan leer. Gemeet aan die Skrif, wil God hê die kerk, veral diegene met ’n gawe van onderrig, moet al sy lede (dit sal kinders insluit) sowel as die wêreld in die geloof leer (Matteus 28:19, Kolossense 1:28, 1 Timoteus 4:11). Christenouers moet hulle kinders leer deur woord en voorbeeld, maar ouers het ook die bystand van kategete nodig. Gelowiges benodig die hele liggaam van Christus (1 Korinthiërs 12:21-28) – insluitende diegene met die gawe van onderrig.

Kategese is nie ’n doel opsigself nie, maar ’n middel om ’n doel te bereik. Ons weet ons het kategese nodig, maar het heel waarskynlik vergeet hoekom. Kategese is veral noodsaaklik om die volgende redes:

  • Kategese help kinders om die Bybel te respekteer, te waardeer en te gebruik. Ontsag vir en belangrikheidbesef van God se Woord kom nie natuurlik nie; ’n gesonde kategese-omgewing wat op God se Woord fokus help hierin.
  • Kategese leer nie net Bybelstories aan jong kinders nie, maar help hulle ook om ’n basiese begrip van die Bybelboeke en algehele formaat van die Bybel te ontwikkel.
  • Kategese help om ’n gemeenskap van gelowiges te ontwikkel. ’n Gemeenskap van kinders wat God aanbid en Hom en Sy Woord saam leer ken vorm ’n band wat nie deur alleenstudie bereik kan word nie. So word die fondasie van die toekomstige kerk gelê. Kategese is ’n manier waarop kinders al vroeg deel van die lewe van hulle kerk raak.
  • Kategese dra by in die ontwikkeling van kinders se geestelike weerbaarheid wat nodig is vir geestelike oorlewing in ’n sekulêre samelewing.
  • Kategese plant geestelike saad. Die sang, die lesse en die liefde sal vir lank nog onthou word en bied ’n teelaarde vir noodsaaklike geestelike groei.


Die klem lê op ondersteuning. Ouers het die primêre, persoonlike verantwoordelikheid wat betref hulle kinders se geestelike opvoeding; dit is ’n heilige verpligting. Die kerk ondersteun ouers in hierdie taak en help ouers sodoende om hulle doopbelofte na te kom. As jy as ouer die verantwoordelikheid van geestelike opvoeding van jou kind(ers) vierkantig op die kategese plaas, moet jy besef dat jy jou kind(ers) faal. Uit die mond van Charles Spurgeon: “Laat geen Christenouers onder die illusie verkeer dat Sondagskool bedoel is om hulle van hulle persoonlike pligte te verlos nie. Die eerste en mees natuurlike verloop van dinge is vir Christenouers om hulle eie kinders in die tug en vermaning van die Here op te voed”.

’n Groot kommer is dat die blote teenwoordigheid van kategese ouers verkeerdelik mag laat glo dat hulle die verantwoordelikheid as die primêre geestelike onderwysers en mentors van hulle kinders kan afskud. Ouers moet verder besef dat kategese nie verbruikers-opvoeding is nie. Vir baie Christene is geloof ’n instrument om te kry wat hulle wil hê, soos bepaal deur hulle individuele behoeftes en gevoelens. Hierdie siening maak die kulturele terrein waarin kategete moet werk om kinders en jongmense te leer baie moeiliker. In essensie skep dit ’n verbruikersmentaliteit aangaande geloof wat hoofsaaklik vra: “wat kan dit vir my doen?” en nie “wat vereis dit van my?” nie. Volgens hierdie verbruikersmentaliteit moet kategese vermaaklik wees, daar moet altyd opwindende jeugaktiwiteite wees en die kategete moet interessant en “relevant” wees - op maniere wat nie altyd versoenbaar is met die eintlike belange en prioriteite van geloofstradisies nie. In kontras hiermee staan die feit dat ernstige inleiding in ’n geloofstradisie van die toetreder vereis om gevorm en hervorm te word volgens die leer van die geloof. Ons durf nie ’n humanistiese benadering volg nie.

Ons totale kultuur, insluitende die sekulêre skole, onderrig sekulêre humanisme. Hulle leer kinders hoe om met ’n humanistiese wêreldsiening te assosieer en dit te verdedig, en hulle modelleer hierdie wêreldsiening. Hulle toon redes hoekom hulle leringe kwansuis waar is, en leer kinders hoe om dit met die werklike lewe te verbind. Uitdagings deur die sekulêre skole en samelewing waarmee Christenkinders gekonfronteer word sluit in:

  • Herdefiniëring van die huwelik soos ingestel deur God.
  • Normalisering en standaardisering van die beoefening van homoseksualiteit en ander seksuele immoraliteit.
  • Evolusie wat as waarheid voorgehou word.
  • Die gelykstelling van die Christengeloof aan ander gelowe.


Die feite agter die Christelike geloof moet duidelik en oortuigend aan ons kinders gekommunikeer word, op ’n manier waarop hulle dit kan leer en onthou, sodat hulle die aanslag van twyfel vanaf die sekulêre wêreld kan weerstaan. Anders gaan hulle maklik glo dat die Bybel net stories is wat nie regtig aan die werklike lewe verbind is nie. Ouers, tesame met kategete, moet kinders help toerus met wapens vir geestelike weerbaarheid. Christene moet die basis van hulle geloof en doktrines kan verdedig (“Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe” - 1 Petrus 3:15). Christene moet antwoorde kan gee op vrae soos: Waar kom die Bybel vandaan en hoe weet ek die Bybel is waar? Wat beteken dit om geloof te hê? Hoe weet ek dat Jesus God is? Elke Christen moet weet wat hy of sy glo, hoekom hy of sy dit glo, en hoe om dit teen leuens en aanvalle te verdedig. Christelike apologetika is eenvoudig die gee van ’n redelike verdediging van die Christengeloof en waarheid aan diegene wat die Christengeloof bevraagteken. Die kurrikula van die kategese gaan toenemend moet voorsiening maak vir apologetika, om sodoende kinders en jongmense te help oorleef in ’n postmoderne kultuur waar dit die norm is om Christene aan te val en te marginaliseer. Kurrikula van kategese moet dus effektief wees in die leer van waarheid asook om die kwessies wat Bybelse outoriteit ondermyn aan te spreek. Daarby moet Christenouers hulself toerus om die aanslag van die sekulêre kultuur op hulle kinders te kan afweer.

Maar dit help nie ons keer teen gevare van buite en word van binne af ondergrawe nie. ’n Kategeet moet suiwer in sy of haar geloofsoortuigings wees. Diegene wat valse idees aangaande verlossing, die kerk, aanbidding, die aard van die Bybel, asook morele kwessies het, moet nie toegelaat word om hulle verkeerdhede te versprei nie. ’n Kategeet moet ’n voorbeeld in beide geestelike ywer en lewenswyse wees. Niemand wat argeloos in kerkbywoning is, wat hom of haar nie wil onderwerp aan kerkdissipline nie en wat ’n wêreldse leefwyse volg behoort in ’n hoedanigheid van onderrig te wees nie. ’n Kategeet behoort ook iemand te wees wat ’n sekere mate van geestelike volwassenheid bereik het.

Kategesebywoning mag nie afhanklik wees van of die kind daarna voel of nie. ’n Deel van grootword behels met tye om te doen wat ons nie lus voel om te doen wanneer ons nie lus voel om dit te doen nie. Dit is krities om goeie gewoontes en gedrag te installeer op die ouderdom wanneer gewoontes, goed of sleg, hoogs vormend is. Bywoning van kategese dra by om respek en dissipline by kinders te kweek in die aanbidding van God en die leer van Sy Woord.

In ’n hedendaagse samelewing waar verandering en massiewe kulturele skuiwe die norm is, help Bybelsuiwer kategese om stabiliteit te bring. Kategese staan egter nie los van ouerlike plig nie. Ons benodig ouers wat hulle doopbeloftes nakom en ons benodig kategese – nou en altyd.

C de Ridder