DIE RAMPSPOED VAN DIE VOORSPOEDIGHEIDSLEER


Die voorspoedigheidsevangelie, amptelik bekend as “Word of Faith”, het ontstaan uit die Pinksterbeweging. Maar waar die Pinksterbeweging fokus op die voortsetting van die geloofsgawes van genesing, profesieë en tale spreek, is die lering van voorspoedigheid ‘n totaal nuwe geloof wat swaar steun op die teologie van die gesproke woord (rhematologie). Die beweging word gedryf deur invloedryke predikers soos Benny Hinn, Kenneth Copeland, Paula White, Joel Osteen en Joyce Meyer.


DIE EVANGELIE VAN RYKDOM EN GESONDHEID

Die soete kernboodskap van die voorspoedigheidslering is: God wil hê Sy volgelinge moet finansieël ryk wees, uitstekende gesondheid hê en gemaklik lewe. En die mate waarop God gunste uitdeel hang uitsluitlik van jou geloof af. (En natuurlik van hoeveel jy bereid is om finansieël tot die spesifieke bediening by te dra, gewoonlik tot verryking van die individuele prediker). Volgens hierdie doktrine is geloof nie onderdanige vertroue in God nie, maar eerder ‘n metode waardeur ons geestelike wette kan manipuleer om sogenaamde Bybelse beloftes van gesondheid en welvaart te verkry. Die “Word of Faith”-beweging reken dat woorde kreatiewe krag het en dat dit wat jy sê sal bepaal wat met jou gebeur. Jou stellings, veral die gunste wat jy van God vra, moet positief wees. Dan is God verplig om te antwoord. God self word dus onderwerp aan hierdie “wette” wat die “geloofskrag” beheer.


DIE MENS IS ‘N KLEIN GOD

Die lering beweer dat God die mens in Sy fisieke beeld as klein gode geskape het. Na die sondeval sou die mens dan die satan se natuur aangeneem het en daarby die vermoë om geloofskrag tot voordeel te benut verloor het. Om dit reg te stel, het Jesus sogenaamd sy goddelikheid opgegee, ‘n mens geword, geestelik gesterf, na die hel gegaan, weer gebore geword en uit die dood opgestaan met God se natuur. Daarna het Jesus die Heilige Gees gestuur om die inkarnasie in gelowiges te repliseer sodat hulle klein gode kan word, soos wat God dit oorspronklik sou bedoel het. Sodoende kan die mens nou die geloofskrag manipuleer en suksesvol in alle areas van die lewe raak. Siekte, sonde en mislukkings word as die resultaat van ‘n gebrek aan geloof beskou en word reggestel deur God se beloftes vir jouself tot bestaansreg te roep. Daar word swaar gesteun op persoonlike openbaring en genoemde predikers is lief daarvoor om enkele Bybelverse uit konteks aan te haal om hulle doktrine te staaf.


BYBELSE WAARHEID

Die Bybel weerspreek duidelik die leerstellings van hierdie beweging. Ons hoop is in die Here, nie in ons eie woorde nie, selfs nie in ons eie geloof nie (Psalm 33:20-22). Ons geloof is in die eerste plek ‘n gawe vanaf God (Efesieërs 2:8; Hebreërs 12:2), nie iets wat ons vir onsself skep nie. God is die sowereine Skepper van die heelal en het nie geloof nodig nie – Hy is die fokus van geloof (Markus 11:22; Hebreërs 11:3). God is gees en het nie ‘n fisieke liggaam nie (Johannes 4:24). Die mens is na die beeld van God geskape (Genesis 1:26, 27; 9:6), maar dit gee nie aan die mens ‘n godddelike natuur nie. Slegs God het ‘n goddelike natuur (Galasiërs 4:8; Jesaja 1:6-11, 43:10, 44:6; Esegiël 28:2; Psalm 8:6-8). Jesus is Ewig, die eniggebore Seun, en die enigste inkarnasie van God (Johannes 1:1, 2, 14, 15, 18; 3:16; 1 Johannes 4:1). In Hom is die volle wese van God beliggaam (Kolossense 2:9). Deur mens te word, het Jesus die glorie van die hemel opgegee, maar nie Sy goddelikheid nie (Filippense 2:6-7). Die Bybel sê nie dat Jesus na Sy dood en voor Sy opstanding na die “hel”, of die sogenaamde lydende kant van die doderyk gegaan het nie. Jesus het wel na die “geeste in die gevangenis” in die doderyk gegaan en aan hulle sy oorwinning oor die dood en oor Satan getoon (1 Petrus 3:18-20). In Matteus 12:40 sê Jesus Hy sal na “die hart van die aarde” gaan soos wat Jona na die maag van die vis gegaan het. Jesus het hier oor die dood of die graf gepraat, nie oor ‘n spesifieke ligging in die lewe hiernamaals nie. Die deel van die Apostoliese geloofsbelydenis wat lui “en neergedaal het na die hel” kan moontlik tot wanbegrip lei. Volgens die Heidelbergse Kategismus (44) word die “hel” hier verstaan as Jesus se onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking wat Hy aan die kruis ervaar het. Dit verduidelik egter nie bevredigend hoekom hierdie spesifieke gedeelte juis na die deel van “gesterwe het” volg nie. Ons verstaan wel dat hel is waar God nie is nie, en Jesus is aan die kruis deur God verlaat. Sommige predikers van die “World of Faith”- beweging o.a. Joyce Meyer, verkondig die onbybelse leer dat Jesus na Sy kruisdood verder in die hel gepynig moes word om vir ons sonde te betaal. Hulle aanvaar dus nie dat Jesus se kruisiging voldoende was as sonde-offer vir die mens nie. Jesus het “een maal” gely (1 Petrus 3:18) en deel van Sy sterwenswoorde aan die kruis was “dit is volbring” (Johannes 19:30). Sy lyding in ons plek was dus voltooi. Sy woorde aan die misdadiger aan die kruis langs Hom “vandag sal jy saam met my in die paradys wees”, asook Jesus se finale uitroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Lukas 23:46) maak dit ook duidelik dat Hy nie na die hel is nie. Die feit dat met Jesus se sterwe aan die kruis die voorhangsel van die tempel geskeur het en dooies opgewek is, impliseer duidelik dat die skeiding tussen God en mens nou oorbrug is.

Christene moet weet dat hulle nie rykdom en voorspoed beloof word nie. Inteendeel, die Bybel waarsku teen die najaag van rykdom. (1 Timoteus 6:9,10; Hebreërs 13:5). Jesus waarsku: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas12:15). Jesus maan ook dat ons nie aardse skatte nie, maar hemelse skatte bymekaar moet maak. (Matteus 6:19,20). En in Matteus 6:24 sê Jesus dat ons nie vir beide God en Mammon kan dien nie.

Die voorspoedigheidsleer verklaar dat pyn en lyding nie in die Christen se lewe hoort nie. Realiteit sê egter anders. Om Christus na te volg waarborg ons nie ‘n pynvrye lewe nie. ‘n Tipe teologie wat nie die realiteit van pyn en lyding aanvaar nie, is dwaas. Christene vertrou op God om uiteindelik dit wat pyn gee te herstel – in hierdie lewe of dan beslis in die volgende. In Paulus se woorde: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Romeine 5:3-5).


VALSE HOOP

Die dwalinge van die voorspoedigheidsleer is blatant duidelik. Tog groei hierdie lering in gewildheid en word dit gesien as geloofwaardig en nuttig, ook onder Suid-Afrikaanse Christene. Weergawes van die voorspoedigheidsleer het dalk meer hoofstroom geraak as wat ons mag besef. Hierdie lering lei tot misplaaste hoop, ‘n skewe realiteit en wensdenkery. Dit vertel ons alles wat ons wil hoor en niks wat ons moet hoor nie. Baie word beloof en min word gevra; daar word niks gesê van selfverloëning en kruis opneem nie. Die boodskap is so aantreklik omdat dit tot die gevalle menslike hart, die sinlike, spreek. Die lering maak navolgers aanmatigend en voorskriftelik teenoor God. Desperate en hopende gelowiges met ‘n gebrek aan geestelike oordeelsvermoë, sal maklik hierdie lering as ‘n reddingsboei sien. Maar selfs as ons die meer duidelike weergawes van hierdie vals evangelie in ons lewens vermy, kan ons maklik versoek word deur ‘n “sagter” weergawe hiervan. Dit kan gebeur as ons byvoorbeeld glo dat God altyd materiële seëninge in ruil vir heiligheid skenk, en dit verwyder as ons ontrou is. (“As ek hard bid vir ‘n verhoging, sal my hoof dit dalk meer geredelik gee” of “Dalk sou ek nie my werk verloor het as ek ‘n meer getroue Christen was nie”).



“En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra” (1 Johannes 5:14). Christene moet nie aan God voorskryf nie, maar versoeke aan Hom rig. Die ware evangelie van Christus kontrasteer skerp met enige weergawe van die voorspoedevangelie. Die ware evangelie leer ons dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was. Dat ons kan hoop vir die toekomstige vernuwing van alle dinge. Dit is daardie hoop, en nie ons huidige gemak en welvaart nie, wat ons in ons daaglikse lewens moet najaag.

C de Ridder