Met hart en verstand

Om ons Here te aanbid is die kern van die Christenlewe. Die Christen is verheug om deur Jesus Christus aan God die Vader 'n lofoffer te bring, die bring van “vrug van die lippe wat sy Naam bely” (Heb. 13:15). Ons sien regdeur die Skrif dat God die mens geskep het tot Sy eer en dat ons ten doel het om Hom te verheerlik (Jes. 60:21, Fil. 2:9-11; 1 Kor. 6:20, 10:31; Opb. 4:11). Die skepping self verklaar die heerlikheid van God (Psm. 19:2), en getuig aan beide gelowiges en ongelowiges dat God die Skepper is en dat alle eer en heerlikheid Hom toekom. As ons aanbidding wil verstaan, moet daar geen twyfel wees dat die onderwerp van ons aanbidding God en God alleen moet wees nie.

 

Wat is aanbidding?

Wat beteken aanbidding vir jou? Dit wat in die kerk moet gebeur op ‘n Sondagoggend? Is dit ‘n “gevoelservaring”, of dalk die volg van sekere gebruike? Die waarheid is dat ware aanbidding nie bepaal word deur ‘n plek, ‘n “gevoel” of ‘n ritueel nie. God stel die standaard van aanbidding in Sy Woord. Ons is dikwels so besig, of staan selfs so onverskillig teenoor die ware karakter van aanbidding, dat ons nie God aanbid soos dit hoort nie.

Die betekenis van die Griekse woord wat mees algemeen in die Nuwe Testament tot aanbidding (proskuneo) vertaal word, is “om neer te val” of “neer te buig.” Om aanbidding werklik te definieer is egter meer ingewikkeld, aangesien aanbidding beide ‘n aksie en ‘n houding omvat. Ware aanbidding van God is die waardestelling van God bo alle dinge. Jesus Christus ons Here is die begin en einde van ons verlossing, maar ook van ons aanbidding. Jesus is die rede in die eerste plek waarom ons die lewende, drie-enige God waarlik kan aanbid. Jesus is die enigste Middelaar tussen God en die mens (1 Tim. 2:5) en dus die enigste weg na die ware aanbidding van God (Joh. 14:6). Hebreërs 10:22 rig aan gelowiges die uitnodiging: ”laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.” Gelowiges kom na God op die terme wat in die Nuwe Testament openbaar word in die nuwe verbond: deur die reddende geloof in Jesus Christus. Ons kan nie vertrou op eie werke, enige eiewaarde, of enige self-regverdiging nie. ‘n Christen aanbid God met die nederige wete dat aanbidding nie my “reg” is nie, maar dat ek tot God nader slegs omdat ek skoon gewas is deur die bloed van Jesus Christus. Aansluitend by laasgenoemde, is dat ek meedoënloos met onbelyde sonde in my lewe moet handel. Dinge soos onbelyde sonde, bitterheid en apatie sal my van ware aanbidding weghou.

Romeine 12:1 leer dat die hele lewe van die Christen daaraan toegewy is om God te aanbid: “En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” Ons aanbid God met ons lewens. Aanbidding is die Christen se allesomvattende diens aan ons Here wat ons vrygemaak het om Hom in heiligheid en vryheid te aanbid, in Gees en waarheid, volgens Sy Woord en tot Sy heerlikheid. Dit is wat dit beteken wanneer ons dinge lees soos: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor. 10:31). “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol. 3:17). Dit is die gelowige se basiese vorm van lewende aanbidding.

Duidelik is dit die plig van die gelowige om God elke dag, ten alle tye, met jou lewe te aanbid. Christene is egter nie geïsoleerde individue nie, maar ‘n liggaam met verskeie lede saam in Christus. Dit is hierdie eenheid in Christus wat die kerk vorm. Ons aanbid dus ook in gemeenteverband. Ons Here het uit die dood opgestaan op die eerste dag van die week, die Sondag, daarom herdenk ons hierdie dag deur weekliks saam te kom en ons te verheug in God se genade in Jesus Christus. “Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes” (Kol.1:12-14). Op hierdie dag word ons herinner aan die heerlike werklikheid dat ons reeds God se rus binnegegaan het (Mat. 11:28; Heb. 4:10) en dat ons die volheid van hierdie rus in die ewigheid afwag. God se Woord roep ons op tot gereelde, weeklikse uitdrukking van ons gemeenskaplike vreugde en dankbaarheid in Christus voor God, wanneer ons bid en sing en God se Woord aanhoor en die instellings van Christus onderhou.

 

Dit gaan oor God

God is heilig en ons is sondig. Aanbidding is nie ligsinnig of kunsmatig nie en staan nie onverskillig teenoor God se heerlikheid nie. God vereis getrouheid, veral in aanbidding. Aanbidding moet aanvaarbaar vir God wees. Ons kan slegs weet wat aanvaarbaar vir God is deur Sy Woord noukeurig te bestudeer. God moet volgens die manier wat Hy voorskryf aanbid word en nie volgens die veranderende begeertes en grille van die wêreld nie. Dikwels wil mense hê dat aanbidding hulle selfsugtige behoeftes moet vervul. Vra jouself af tydens ‘n erediens: “Hoekom is ek vandag hier?” Jou antwoord moet die dien en verering van God as fokus hê. Gestel jy woon die erediens by omdat jy ‘n moeilike tyd beleef “en die Here nodig het”, sal jy dan steeds die Here en die kerk as nodig beskou sodra dit weer beter gaan? Wanneer jy sê: “Ek het niks uit die diens gekry vandag nie” nadat jy ‘n Woord-gesentreerde erediens bygewoon het, moet jy weet dat jou aanbidding mens-gesentreerd is. Natuurlik moet ons geestelik gevoed word. Maar geestelike voeding en groei word verkry vanuit ‘n daaglikse wandel met God, deur gebed en bestudering van Sy Woord, nie slegs deur ‘n eenmalige kerkbywoning per week nie. Dit is soos om een keer ‘n week te wil eet en hoop jy raak nie honger tot volgende keer nie. Verder is hierdie geestelike voeding nie ‘n ooreenkoms met God, of iets wat ons self bewerk, of iets wat van ander af kom nie, maar iets waarmee God ons seën, tot Sy heerlikheid.

“God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee” (Hand. 17:24-25). Ons bewys nie aan God ‘n “guns” wanneer ons Hom op ‘n Sondagoggend as gemeente aanbid nie. God is ewig en onmeetbaar toereikend en het niks van ons nodig nie. Ons kan niks by Sy volmaakte heerlikheid voeg nie. Hy kan nie gedien word in die sin dat Hy iets kortkom wat ons aan hom kan verskaf nie. God vereis aanbidding omdat die eer en heerlikheid Hom alleen toekom. Ons aanbidding van God is ‘n uitdrukking van eerbied, dankbaarheid en gehoorsaamheid aan Hom. Wanneer ons God saam aanbid, word Sy heerlikheid daardeur weerspieël. Wanneer ons lofgesange saam sing, herinner ons mekaar aan God se almag, liefde en goedheid. Wanneer ons ons liefde vir God uitdruk, word ons blydskap in Hom verhoog.

Wanneer is aanbidding nie meer outentiek nie? Wanneer aanbidding gesien word as ‘n manier om ‘n ander doel te bereik. Wanneer ons byvoorbeeld aanbid om kerkmoraal te verbeter. Of om die kerk ‘n gesinsgevoel te gee. Of om huwelike te help bymekaar hou, of om jongmense te trek, of om mense te motiveer tot diensprojekte. Daar kan ‘n magdom ander redes wees. Dit is wel so dat outentieke aanbidding verskeie goeie effekte op die lewe van die kerk kan hê. Maar as ons aanbidding om hierdie redes self gaan, is dit nie meer ware aanbidding nie. Indien Christus nie sentraal in ons aanbidding is nie, sal óns wees. Indien Christus se opdragte rakende aanbidding nie gevolg word nie, sal óns idees en tradisies gevolg word.

Aanbidding is ‘n leefwyse met God as middelpunt. Ons kan nie aanbidding met slegs ‘n ervaring, ‘n oomblik, gelykstel nie. Die essensie van aanbidding is diepe hartstevredenheid in God. Wanneer die metode van aanbidding belangriker as die Persoon van aanbidding raak, het ons klaar ons aanbidding uitverkoop. Ons is geneig om die fokus vanaf die absolute onmisbaarheid van God te verplaas na die kwaliteit van die verrigtinge soos dié van die sang en orrelbegeleiding. Ja, ons definieer graag die krag en voortreflikheid van ons aanbidding in terme van die tegniese vertoning van ons optrede. Terloops, indien die tegniese vaardigheid van die sing van ‘n lied vereis dat die gemeente se aandag slegs op die “korrekte” sing daarvan gefokus is, mis ons die punt van sang in die erediens. Ons aanbidding mag nooit ‘n vertoning raak nie. Verder sê ons dalk graag: “Wat ‘n goeie preek” eerder as: “Wat ‘n grote, wonderbaarlike God, en watter voorreg om Hom in Sy Woord te ontmoet, soos ons pas gedoen het.” Die predikant bring die boodskap van die Woord, die eer kom God toe. Ons plaas graag ons leiers op ‘n voetstuk en verwys na ‘n gemeente as “ds. X se gemeente”. Ons vergeet die gemeente behoort aan Christus. Kundiges mag ons dalk vertel dat ons gemeente se aanbidding van uitstaande gehalte is. Maar daarby word slegs bedoel dat ons ‘n bekwame orrelis het, dat die sang van bogemiddelde kwaliteit is, of dat die predikant welsprekend is. Daar is slegs Een wat kan sê wat die kwaliteit van ons aanbidding is, en Hy gee vir ons die meting vir daardie kwaliteit in die Skrif: “Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie” (Opb. 2:4).

 

Plek is minder belangrik

Jesus het aan die Samaritaanse vrou by die put (Joh. 4: 4-24) gesê dat daar 'n tyd kom “wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie” (Joh. 4:21). Verder het hy aan haar gesê dat ware aanbidders die Vader deur die gees en in waarheid sal aanbid, “want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen” (Joh. 4:23). Die woord “gees” staan in teenstelling met uiterlike seremonies en rituele; dit verwys na die hart en opregte rede. Die vrou wou Jesus se aandag aflei van haar persoonlike, immorele lewe deur oor kontroversies in aanbidding te praat. Jesus maak dit egter met Sy woorde duidelik dat aanbidding nie slegs ‘n eksterne handeling is wat gedoen word deur na ‘n plek te gaan nie. Aanbidding is eerstens ‘n ervaring van die hart. Hóé aanbid word is veel belangriker as wáár.

Jesus het ook twee ander dinge oor die tempel gesê wat dui op ‘n radikaal anderse siening van aanbidding vir daardie tyd. Hy het verklaar: “Hier is Een wat groter is as die tempel” (Mat.12:6) en ook: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig” (Joh. 2:19). Die tempel is natuurlik as hoogs betekenisvol deur die Jode geag. Hierdie kontroversiële uitsprake van Jesus is van die redes wat deur Sy aanklaers voorgehou is om Hom te laat kruisig (Mark. 14:58) en dit het ook ‘n groot rol gespeel in Stefanus se steniging (Hand. 6:14). Jesus het Homself geïdentifiseer as die ware Tempel; Hy sal in Homself alles vervul waarvoor die tempel gestaan het. Weereens word die aandag vanaf aanbidding as ‘n gelokaliseerde element met uiterlike rituele verskuif na ‘n geestelike ervaring met die opgestane Jesus as middelpunt. Die klem word weggeneem vanaf seremonie, plek en vorm en verplaas na dit wat gebeur in die hart. Dit herinner ons aan die waarheid dat die gebou waar ons plaaslik saamkom vir aanbidding, nie die kerk is nie. Gelowiges is die kerk. Christene, die kerk, is die liggaam van Christus (1 Kor. 12:27) en Hy is ons Hoof (Ef.1:22). Christene is die tempel van die Heilige Gees (1 Kor. 6:19).

 

In gees en waarheid

Die Skrif is duidelik aangaande die tipe aanbidding wat ons Here verlang. God verlang outentieke hartstoewyding en ontsag, nie blote uiterlike konformiteit tot Sy regulasies nie. Jesus haal byvoorbeeld Jesaja se veroordeling aan van diegene wat God met hulle lippe vereer, maar hulle harte is ver van Hom (Mat. 15:8-9). Jesus noem hierdie tipe aanbidding “tevergeefs”. Jy kan dus soveel dinge rakende aanbidding doen soos jy wil en soveel kerkdienste bywoon soos jy wil, maar steeds nie waarlik aanbid as jou aanbidding slegs ‘n uiterlike handeling is en daar niks in jou hart gebeur nie.

In Johannes 4:24 sê Jesus: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Ware aanbidding is deur die gees, dus, aanbidding vanuit die hart, gebaseer op ‘n hartsbegeerte na God. Ware aanbidding is nie klinies en afsydig nie, maar is ook nie ‘n oor-emosionele ervaring wat deur eksterne faktore bewerkstellig word nie. Ons gebruik nie dinge soos musiek, beligting, pleidooie vanaf ‘n verhoog of skare-besieling om emosie te wek nie. Ware versugting na God ontstaan deur ons denke te fokus op die waarheid van wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het by die kruis. Ware aanbidding betrek die hart, onder die invloed en leiding van die Heilige Gees, waarsonder die mens nie waarlik kan aanbid nie. Ons dien God deur Sy Gees (Fil. 3:3). Ons Here Jesus Christus sê: “Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie” (Joh. 3:6-7). Voordat die Heilige Gees ons nuut gemaak het, is ons geestelik dood (Ef.2:1). Ware aanbidding kan slegs kom vanaf ‘n gees wat lewend gemaak is deur die werking van die Heilige Gees.

Ware aanbidding is ook in waarheid, dus ‘n opregte, God-gesentreerde aanbidding as ‘n offer vir God. Aanbidding in waarheid spruit vanuit ‘n behoorlik ingeligte siening van God. As ons God waarlik wil aanbid, moet ons verstaan wie Hy is. God openbaar Homself aan ons deur Sy Woord van waarheid. Hy openbaar Homself deur Sy Seun, wat waarheid is (Mat. 11:27; Joh. 1:18; Heb.1:1-2). Die skepping getuig van God en Sy heerlikheid (Ps. 8:3-4; Rom. 1:20). Om God in waarheid te aanbid beteken om Hom te aanbid vir alles wat Hy is soos geopenbaar in die Skrif. Ons aanbid Hom vir Sy liefde, maar ook vir Sy oordeel en regverdigheid. Vir Sy soewereiniteit en vir Sy genade. Vir Sy goedheid en ook Sy strengheid (Rom. 11:22). Kortom, ons aanbid God want Hy is God. Die Skrif is ons gids vir aanbidding in waarheid.

 

Die Bybel skryf voor

Ons moet God aanbid volgens die terme soos deur die Skrif gestel. Vele Christene glo dat, om aanbidding wat suiwer en vry is te hê, aanbidding minimaal gereguleer moet word. Die sienswyse is dat, om in die gees te kan aanbid, soos wat God voorskryf, ons op maniere moet aanbid wat deur ons ontwerp is en wat ons goed laat voel. Maar die begrip van Christelike vryheid moet juis gevestig wees op ‘n Bybelse begrip van menslike verdorwenheid en God se heiligheid. Ons is sondaars en ons innerlike begeertes staan direk teen dit wat God ons beveel om te doen.

Omdat ons niks uit ons eie uit kan doen om God te behaag nie, moet ons Sy riglyne volg aangaande wat aanvaarbaar in Sy oë is. Hierdie riglyne word in Sy Woord uitgelê. Die Skrif maak dit duidelik dat God aanbidding nie as ‘n neutrale kwessie sien, of as iets wat onderworpe is aan die giere van die sondige mens nie. God bepaal gepaste aanbidding. Ons sien dit in die eerste en die tweede gebod (Eks. 20:2-6); die insident van die goue kalf (Eks. 32), die verhaal van Nadab en Abihu (Lev. 10:1-3); God se verwerping van Saul se offer (1 Sam. 15:22); en Jesus se verwerping van Farisesiese aanbidding as die “leerstellings van mense” (Mat. 15:1-14). Paulus noem verder die dwaaltipe aanbidding in Kolosse ethelothreskia (Kol. 2:23) wat vertaal as “aanbidding volgens wil” of “eiegemaakte aanbidding”.

Wat is aanvaarbare aanbidding? Die Bybel as die geïnspireerde Woord van God is die enigste reël vir geloof sowel as praktyk. Volgens die Skrif moet ons God aanbid in gees en waarheid (Joh. 4:24), met eerbied en ontsag (Heb. 12:28-29), op ‘n “gepaste en ordelike” manier (1 Kor. 14:40) en op wyses wat die gemeente sal opbou (1 Kor. 14:26).

Die Bybel verskaf aan ons riglyne vir die byeenkoms van die kerk. Die hoof-elemente van aanbidding wat in die Nuwe Testament geïdentifiseer word is die volgende:

ons lees en preek die Woord (Hand. 2:42; Kol. 4:16; 1 Tim. 4)

ons luister na die Woord (Jak. 1:19)

ons bid tot die Here (Hand. 2:42; Hand. 20:36; 1 Kor. 14:15-16)

ons sing “psalms, lofgesange en ander geestelike liedere” tot eer van die Here (Efs. 5:19; Kol. 3:16)

ons onderhou die twee sakramente van die kerk wat deur ons Here ingestel is – die doop en die Nagmaal (Mat. 28:18-20; Luk. 22:17; Mat. 26:26-28)

ons gee offergawes as ‘n vrywillige, onselfsugtige handeling van aanbidding (1 Kor.16:2; 2 Kor. 8:7-12; 2 Kor. 9:6-15).

Elke Skrifgehoorsame kerk moet deur die outoriteit van die Skrif gereguleer word. Maar binne ‘n Skriftelike raamwerk is daar ‘n wye verskeidenheid van aanvaarbare uitdrukkings van aanbidding. Daar is byvoorbeeld geen bindende Skriftelike opdragte wat die aantal gebede in die erediens bepaal, of die lengte van die Skriflesing voorskryf, of wat slegs psalms as liedere beveel nie. Verder word vele kulturele aspekte van ‘n erediens nie in die Bybel aangespreek nie, soos die gebruik van tegnologie. In ons vryheid hier moet ons egter waak teen onvanpaste handelinge en dwaasheid. Ons moet fokus op die kern en daar bly.

 

Waak teen formalisme

Die verdoeming wat die profete in die Ou Testament aan Israel gerig het wat betref aanbidding van God, was omdat die volk gefaal het om te offer met ‘n opregte, ootmoedige hart en ‘n heilige lewe (sien Mig. 6:6-8). God sê in Hosea 6:5-6: "Dít is waarom Ek julle met my profete gestriem het, julle met my woorde vernietig het. My straf oor julle kom so seker soos die lig, want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.” Die probleem het nie gelê in aanbidding as ‘n instelling nie, maar by die verval van ware aanbidding tot ‘n blote vorm.

Die gevaar bestaan altyd dat ons ons vertroue in die praktyke en elemente van aanbidding kan plaas eerder as in God. Dan verval ons in formalisme. Formele aanbidding moet egter nie met formalisme verwar word nie. ‘n Kerk kan aanbidding volg wat formeel en gestruktureerd is, maar steeds outentiek is. Formalisme daarenteen, toon slegs die uiterlike aspekte van aanbidding en betrek nie die hart nie. Selfs ‘n kerk met ‘n informele tipe liturgie kan dus skuldig aan formalisme wees wanneer daar slegs uit gewoonte aanbid word. Wanneer God egter sentraal in jou aanbidding is, dan weet jy hoekom jy die erediens bywoon. Dan sien jy nie sang, gebed, belydenis en preek as blote plig nie.

Dit is belangrik dat gemeentelede die redes en betekenis van die verskillende elemente van die liturgie verstaan. Ons moet byvoorbeeld ‘n goeie begrip hê oor waarom ons die Wet voorlees en watter rol die Wet in die Christenlewe speel. ‘n Swak begrip van waarom ons sekere dinge in aanbidding doen, kan maklik daartoe lei dat gemeentelede hulself van die aanbiddingsproses onttrek en roetinegewys aanbid. Formalisme vind maklik aanklank by die mens. Dit skep ʼn gemaksone en daag nie die hart uit tot introspeksie nie. Dit vereis nie ‘n begrip van ‘n ware siening van God nie. Formalisme was nog altyd gewild: regdeur die geskiedenis van Israel; onder die Jode toe Jesus tussen hulle gewandel het; in die vroeë kerk van Christus, tydens die Middeleeue, ja, selfs na die Hervorming in die geskiedenis van die Protestantse kerke. Maar formalisme is ‘n dodelike gevaar. Waak dus oor jou Bybellees en jou gebed, waak oor jou aanbidding op Sondae, waak oor jou hele lewe as lewende offer vir God, sodat jou aanbidding nie bloot vormgodsdiens raak nie.

 

Ritualisme? Ons?

In godsdienstige konteks kan ‘n ritueel beskou word as ‘n vaste vorm van aanbidding. Rituele is nie inherent sleg nie – God het tog die Ou-Testamentiese offersisteem ingestel en in die Nuwe Testament die doop en Nagmaal. (Die sakramente is natuurlik veel meer as bloot rituele). Die probleem lê by ritualisme. Aanbidding kan ritualisties raak indien die aksies wat uitgevoer word mens-geïnduseer is, of wanneer aanbidding meganies gedoen word sonder belang of toewyding. Ritualisme is dus ‘n tweeling van formalisme. Rituele soos ontwerp deur die mens is feilbaar en dikwels onskriftuurlik. Leë rituele of enige aksies wat ons verhouding met God verplaas of oorskadu is verkeerd.

Die rituele in die Ou Testament was tydelik. Hierdie “eksterne regulasies” is nie bindend op ons vandag nie. “Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, 'n volkome skoon gewete kan gee nie. Dit het net betrekking op voedsel, drank en 'n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God 'n beter orde sou instel” (Heb. 9:9-10). Daar bestaan geen Nuwe-Testamentiese mandaat vir ons om seremoniële voorwerpe of mensgemaakte simboliese handelinge in ons aanbidding in te sluit nie.

Wat ritualisme betref, wys ons maklik die vinger na die Rooms-Katolieke met hulle vele vorms van rituele soos die Mis, die Liturgie van die Ure en die gebruik van bidkrale. Protestante kan egter ook in hulle eie vorms van ritualisme verval. Ons mag dalk voel dat dinge tussen ons en God “reg” is omdat ons kerkbywoning getrou is. Of omdat ons Nagmaal gebruik. Of omdat ons getrou ons offergawes gee. Of omdat ons in die kerkraad of op ‘n kerkkomitee dien. Wanneer ons trots op onsself is oor hierdie dinge wat ons gereeld doen, is ons skuldig aan ‘n tipe ritualisme. Dinge soos kerkbywoing, die gee van offergawes en die dien van mekaar met ons gawes moet met dankbare, opregte en nederige harte gedoen word. Ons moet die neiging om in ritualisme te wil verval in plaas van om ‘n hartsverhouding met God te handhaaf, beveg. Jesus het byvoorbeeld gewaarsku teen ‘n “ydele herhaling van woorde” wanneer ons bid (Mat. 6:7). Dit sal tog ook geld vir ander elemente in die erediens, soos ons sang. Verder mag die woorde wat ons hoor en dit wat ons sing nooit weens herhaling lei tot afstomping in ons aanbidding, eerder as die uitdrukking van die hart en verstand voor God nie. Al die elemente van aanbidding moet met sin en toewyding uitgevoer word.

 

Wat van tradisie?

Die term “tradisie” het oorsprong uit ‘n Griekse woord wat dui op “instruksies wat oorgelewer word.” Hierdie uitdrukking kan in ‘n positiewe sin gebruik word, ooreenkomstig met Goddelike verordening (1 Kor. 11:2; 2 Tes. 2:15). In ander kontekste kan tradisie dui op skadelike menslike oorlewering wat deur God veroordeel word (Mat. 15:3; Kol. 2:8). In hierdie geval word algemene, mensgemaakte praktyke met tyd aanvaar as die Woord van God - sulke tradisies mag “laste” raak (Mat. 23:4) wat onnodiglik op mense geplaas word, en hulle van regmatige vryheid in die dien van Christus ontneem.

God se Woord staan vas. Menslike tradisie daarenteen, ontwikkel oor tyd. Menslike tradisie word bepaal deur gewoontes of gebruike. Ons sien in Matteus 15:1-9 dat ons Here geen erg het aan enige menslike voorskrif wat voorgee om mense te lei tot aanbidding van die ware God nie. Dit is nodeloos om te wil redeneer dat sulke tipe tradisies nie aftrek doen van ware aanbidding nie, maar dit “verryk”. Of om te sê dat sulke tradisies van “betroubare” bronne afkomstig is. Ons is geneig om ‘n tradisionele oriëntering te hê wanneer ons die Skrif lees, die Woord preek en die Woord aanhoor. Hierdie tradisies moet Bybels-ingelig wees en mag nie onbewustelike aannames, halwe waarhede of, behoede ons, vals lering wees nie. Ons moet bewus wees van ons tradisies sodat ons hierdie tradisies, waar nodig, deur die Woord van God kan korrigeer.

Tradisies raak ongesond indien die nakom daarvan ons weglei vanaf die opregte gehoorsaamheid in liefde wat ons Here van ons verlang. Dan kan tradisies misleidend baie soos “gehoorsaamheid aan God” op die oppervlak lyk. Tradisies en gebruike mag nooit ware aanbidding vervang nie. Tradisies raak verkeerd indien dit een of meer van die volgende doen:

lynreg met die Skrif gestel word en bindend of verpligtend raak

gebaseer is op die uiterlike en op wat ander dink

ons weglei van die essensie van ons aanbidding

die stigters daarvan en/of deelnemers daaraan verheerlik

daartoe lei dat mense obsessief oor die nakom daarvan raak en daardeur die motiewe en die toestand van hulle harte verontagsaam.

Menslike tradisies mag nooit verhef word tot die status van Goddelike openbaring nie. Die Skrif se unieke essensie van theopneustos (2 Tim. 3:16-17) beteken dat alle ander outoriteit ondergeskik aan die Skrif is. God is die hoogste outoriteit moontlik (Heb. 6:13) en Hy praat deur Sy Woord. Ander tradisies en gesag kan opsygesit word, maar Christus self het gesê dat die Skrif “nie gebreek” kan word nie (Joh. 10:35). Kerktradisie kan bydra tot ons begrip van die Skrif. Hierdie en ander mensingestelde gesag is egter finaal onderworpe aan die Woord van God. Niemand kan van ons vereis dat ons iets moet glo of doen wat bots met wat die Skrif ons leer, of wat ons weglei van die kern van aanbidding nie. Tradisies of gebruike kan nie net eenvoudig ingestel word omdat dit ons goed laat voel, of uit goeie motiewe nie. Die enigste instellings wat die Nuwe Testamentiese kerk opdrag het om te onderhou, is die doop en die Nagmaal. Ons moet altyd nougeset daarop let om ons handelswyse teen die Skrif se standaard alleen te meet. Paulus byvoorbeeld, het geweet hoe vernietigend tradisie op gemeentes kan inwerk wanneer hy waarsku teen misleiding volgens die “oorlewering van mense” wat nie op Christus berus nie (Kol. 2:8). Ons toewyding is eerstens tot ons Here Jesus Christus, nie tot gebruike, belydenisse of liturgieë self nie. Hierdie elemente is daar om ons te dien, nie om oor ons te regeer nie.

Die gebruikmaking van die erkende belydenisskrifte deur die kerk tydens aanbidding kan as ‘n goeie tradisie beskou word. Belydenisskrifte is die getuienis wat ons voorgangers oor die tye heen aan ons bring rakende dit wat hulle as van kardinale belang, en noodsaaklik om aan toekomende generasies bekend te maak, beskou het. In hierdie sin is die belydenisskrifte die kerk se “tradisie” wat oorgelewer is van een generasie na die ander. Protestante glo nie dat belydenisskrifte en kategismusse onfeilbaar is nie – slegs die Skrif het hierdie eer. Ons glo wel dat hierdie betrokke elemente outoriteit het indien die lering van die Skrif akkuraat daardeur weergee word. Alhoewel ons dus die belydenisskrifte onderskryf omdat dit Skrifwaarheid verwoord, moet ons in gedagte hou dat hierdie elemente deur feilbare mense opgestel is en ondergeskik staan aan die kanon van die Skrif. Die belydenisskrifte vervang nie die Skrif nie, maar dien die Skrif. Sou dit ooit gevind word dat die belydenisskrifte korreksie benodig om meer getrou aan God se Woord te wees, moet dit hersien word soos waar nodig. Nog ‘n voorbeeld van goeie tradisie sluit in ‘n liedereskat van Psalms en Gesange, spesifiek dié wat Woordgetrou is, wat ons in ons aanbidding gebruik. Daar is natuurlik ook ‘n paar ander tradisies wat ons in die Geloofsbondgemeentes volg. Tradisies kan ‘n heilsame wyse wees waarop ons ons Here eer. ‘n Beheptheid met menslike tradisie kan egter die doel van die kerk verskans en weglei van ware aanbidding van God. Ons moet deeglik besin oor die motief of motiewe vir elke tradisie wat ons in aanbidding handhaaf of wil instel. Geen tradisie mag ons verhouding met Christus wil vervang of daaraan afbreuk doen nie. Die boodskap van die evangelie wat aan die kerk toevertrou is mag nooit deur die metode van oordrag verduister word nie. Laat ons dus versigtig wees aangaande ons soort tradisies en die maniere waarop ons tradsies handhaaf; ons as feilbare mense kan maklik hier fouteer.

 

Die Christen se hele lewe is toegewy tot aanbidding van God. Om God waarlik te aanbid, beteken dat ons Hom verheerlik met ons hele menswees. Aanbidding van God vereis dat ons harte en denke op die regte plek is. As gemeente moet ons besef dat daar regte en verkeerde maniere is om God te aanbid. Na afloop van ‘n erediens gaan dit nie saak maak of ons gestaan of gesit het, of dat die gemeente ses keer na mekaar “amen” gesing het nie. Wat saak maak, is of ons vir God in gees en waarheid aanbid het. Laat ons algeheel op ons Here fokus wanneer ons aanbid en waak teen enige afleidings wat maak dat Hy nie meer ons fokus is nie. God is alomteenwoordig en Hy is ook waarlik teenwoordig daar waar ons bymekaarkom om Hom te aanbid (Mat. 18:20). Laat dit vir ons dan ‘n onomstootlike motivering wees om ons in Hom te verheug in die teenwoordigheid van Sy mense.


-C. de Ridder
 (GHG Mediakomitee)