Koster: Kersfunksie vir Bejaardes

Kersfunksie vir Bejaardes

Koster gemeente - 2017

Op Dinsdag, 24 Oktober 2017 het die sussies van Koster gemeente 'n Kersfunksie vir ons bejaardes in die kerksaal aangebied.  Ons bejaardes maak nie net seker dat die waardes en norme van steedsHervormer voortgesit word nie, maar hulle is die ruggraat van ons kerk en gemeente.  'n Mens kan regtig by hulle nog sien hoe 'n verantwoordelike lidmaat moet leef in die geloof.  Hulle is ook altyd daar wanneer daar gewerk moet word.  Regte steunpilare.  Daarom was dit vir ons aangenaam om hulle as ‘n klein blyk van waardering, uit te nooi vir ‘n ete en te bedank vir wat hulle vir die kerk en ons gemeente beteken. 

Die jonger susters van die gemeente het hierdie keer reggestaan en sommer uitgehang met ‘n voortreflike maaltyd wat hulle voorgesit het.  Hulle het al die spyseniering en ook die versiering en opmaak van die saal gedoen, wat sommer baie feestelik gelyk het.  Elmien Botha het die praatjie gelewer met die tema:  “Jolliepatrollie tot op 100”.  Dit het amper vir ‘n dansende affêre gesorg.

Ons wou ook graag die emeritti professore, predikante en hulle goeie gades op ‘n manier betrek as gaste.  Stel jou voor die stories wat hierdie klomp met mekaar kon deel.  Maar dit is makliker gese as gedoen, het ons gedink, want ‘n mens kan tog nie van ons emeritti verwag om platteland toe te ry net vir ‘n Kersete nie.  Hulle is altemit nie meer vandag se ‘kint’ nie en hulle stories is in elke geval te veel om net in een agtermiddag te kan vertel.  Ons het toe ‘n plan beraam en met die goeie gesindheid van die Kerkraad en die gasvryheid van Stefan Rautenbach van Woodridge Palms Boutiek Hotel kon ons hulle oornooi.  Ons was so bevoorreg  dat  13 van ons emeritti die uitnodiging kon aanneem.  Hulle en hul gades het Maandag hier oorgeslaap om Dinsdag ons funksie by te woon en hulle het Woensdag vertek.

Dit was vir ons ‘n groot eer en voorreg om ons senior predikante en lidmate op hierdie manier te onthaal.